Percival Williams van Roses United loop ‘n Robertson Town speler van voor af

Ná indrukwekkende oorwinnings in die halfeindstryd teen Villagers Worcester en Robertson Town is Saldanhabaai en Roses United gereed om mekaar die stryd aan te sê, wat beloof om ’n opwindende eindstryd te wees. Terwyl Saldanhabaai vir Villagers Worcester oortuigend geklop het, is Robertson naelskraaps uitgeskakel, en lê die groot toets nou vir Roses United voor.

Gazette Sport het met Brendon April, hoofafrigter van Roses United, en Randall Julies, hoofafrigter van Saldanhabaai, gesels oor hul voorbereidings en wat ondersteuners kan verwag wanneer die twee formidabele spanne mekaar op Saterdag 22 November die stryd aansê.

April het teruggekyk op die bepalende oomblikke van die Robertson-wedstryd: “Toe ons net 13 man op die veld gehad het, het Robertson die bal goed beheer en ons onder druk geplaas. Maar toe ons weer met 15 spelers kon speel, in die laaste 19 minute, het alles verander. Ons het drie keer gedruk, wat die keerpunt in die wedstryd was,” het April gesê.

Hy beklemtoon dat die voorbereiding teen Robertson deeglik was en dat die planne goed uitgevoer is. Nou val die fokus op Saldanhabaai, ’n span wat Roses United goed ken. “Ons speel gereeld teen hulle en weet wat hulle bring. Ons fokus egter op onsself, wat ons beter kan doen en hoe ons kan verbeter op verlede week se spel. In ’n eindstryd is dit altyd vyftig-vyftig; die span wat die hongerste is en op die dag opdaag, sal wen.”

Vir April en sy spelers is die wedstryd meer as net ’n sportgebeurtenis, dit dra ‘n groot betekenis vir Roses en sy gemeenskap. “Ons was lanklaas in ’n halfeindstryd, en dit is die eerste keer in sewe jaar dat ons weer ’n eindstryd haal. Roses se ondersteuners het Saterdag met vreugde gereageer nadat die eindfluitjie geblaas het.

Die boodskappe van sterkte wat ons van oudspelers en ondersteuners ontvang het, wys hoe groot dit vir Roses en sy ondersteuners is. Ons wil die wedstryd opdra aan Cornal Hendricks, ’n voormalige speler wat ons vroeër vanjaar verloor het. Dit maak die eindstryd emosioneel en spesiaal,” het April bygevoeg.

Ongelukkig kon geen kommentaar teen druktyd van Randall Julies, Saldahabaai se hoofafrigter, ontvang word nie.

ROSES UNITED vs SALDANHA

Roses United

Ses keer Boland-kampioen; het al die titels in die ou formaat gewen, maar nog nooit die Sanlam Boland Top-12 nie.

Eerste verskyning in ’n eindstryd sedert 2018 (Villagers Worcester 36–29 Roses United).

Uitstekende seisoen: 27 oorwinnings uit 28 wedstryde in 2025; enigste nederlaag teen Botrivier in die SBT12.

Saldanhabaai

Twee keer Boland-kampioen; het die Sanlam Boland Top-12 twee keer agtereenvolgens gewen (2019 en 2022).

Ongeëwenaarde rekord: 100% wenrekord in eindstryde.

100% rekord teen Roses United in die SBT12.

Spelers en spanne

Albei spanne word afrig deur voormalige Boland Cavalier-spelers: Brendon April (Roses) en Randall Julies (Saldanha). Roses se skrumskakel, Percival Williams, het al ses Boland-titels gewen – die mees gevierde speler. Die voormalige Valke-vleuel Easton Arendse het 27 drieë in 20 wedstryde vir Roses hierdie seisoen aangeteken. Saldanha se skrumskakel, Monray Jacobs, het die vinnigste driekuns in die SBT12 behaal, nog voor rustyd teen Safcol.

Vorige wedstryde in die kompetisie

2023 SBT12: Saldanha 28–25 Roses United

2019 SBT12-halfeind: Saldanha 26–16 Roses United

Met ’n ryk geskiedenis staan albei spanne op die drumpel van geskiedenis in Boland-rugby. Roses United jaag hul eerste Top-12-titel, terwyl Saldanhabaai hul perfekte rekord in eindstryde wil behou. Alles dui daarop dat Saterdag se wedstryd vir Boland Rugby ’n onvergeetlike eindstryd gaan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article