Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM) het bevestig dat hul spanne ontplooi is na Ashton en na ’n nuwe brand in Lanquedoc buite Pniël.
Volgens ‘n verklaring deur die KWDM het die brand in die berge bo Zolani in Ashton weer opgevlam en beweeg dit tans deur ’n gebied met verouderde plantegroei. Die vuur brand op berggrond van Sarah’s Farm, waar grondspanne reeds besig is om die vlamme te bekamp. Verdere spanlede is onderweg om bystand te verleen.
Intussen is ’n nuwe brand ook in die berge bo Lanquedoc aangemeld. Dié brand het vinnig deur digte plantegroei versprei en brei tans oor ’n groot gebied uit.
LEES: Multiple fires contained across Cape Winelands District
Die KWDM het drie groot brandbestrydingvoertuie, twee grondspanne en lugondersteuning ontplooi om die brande te help beheer.
Die uitvoerende burgemeester van KWDM, Elna von Schlicht, het inwoners gewaarsku oor die toenemende risiko van veldbrande in die streek en ’n beroep gedoen dat grondeienaars en inwoners voorkomend optree om skade te voorkom.
Von Schlicht sê dat brandspanne die afgelope 24 uur onverpoos gewerk het om verskeie brande in die distrik te bestry. Volgens haar is die hoë brandstoflading weens digte, droë en ononderhoude plantegroei ’n groot uitdaging.
“In sulke gevalle raak eiendomme eenvoudig onverdedigbaar, omdat brandbestryders nie veilig naby genoeg kan kom om huise te beskerm nie,” sê sy.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ’n baie warm somer met ondergemiddelde reënval, en verskeie munisipaliteite het reeds waterbeperkings ingestel. Die droë veld in gebiede naby plase en woonbuurte skep volgens haar ’n groot brandgevaar.
“Dit is nog nie te laat om brandbane te maak nie. Maak seker dat geute en slootjies skoon is, en snoei takke wat oor dakke of naby elektriese drade groei. Hierdie eenvoudige stappe kan help om huise en woonbuurte te beskerm as daar ’n brand uitbreek.”
Von Schlicht het inwoners versoek om voorkomende maatreëls te tref.
Sy het verder ’n beroep gedoen dat die publiek nie in openbare gebiede braai nie, selfs al is daar fasiliteite beskikbaar — veral nie op dae wanneer die temperatuur bo 35°C styg nie.
Von Schlicht het inwoners ook versoek om rook of vlamme onmiddellik aan te meld by hul naaste owerheid of die KWDM se 24-hulplyn by 021 887 4446 te skakel.





