“Die koerant is ‘n bewys van wat moontlik is wanneer leerders vertrou en bemagtig word. Dit is meer as net ‘n publikasie – dit is ‘n projek wat jaar ná jaar ‘n invloed het.”
Só sê Marius Barends met die 33ste verjaarsdagviering van Charleston Hill Sekondêre Skool se skoolkoerant, CH Voice.
Barends is ‘n oudleerder en hoofseun van dié skool en was in sy dae as leerder ook ‘n verslaggewer by die koerant. Deesdae ploeg hy terug as ‘n mentor vir die leerders wat tans by CH Voice betrokke is.
“Ek help die leerders met hul artikels en is verantwoordelik vir die uitleg en saamstel van skoolkoerant. Dis vir my belangrik om terug te ploeg in die gemeenskap wat my gevorm het.”

Volgens Barends was die koerant eers bekend as CH News voordat dit intussen na CH Voice verander is.
Lindsey Newman, die skakel-opvoeder en skoolkoerantkoördineerder, sê: “Die doel van ‘n skoolkoerant is om inligting, nuus en menings binne ‘n skoolgemeenskap te deel. [Dis ‘n] stem vir ons leerders; so ook om ons leerders aan die wêreld daar buite bloot te stel, hulle aan skryf bekend te stel en ‘n liefde vir taal te kweek. Soveel geleenthede is buite [die skool], asook deure wat deur die koerant oopgesluit kan word.”
Newman sê 26 September 1992 sal seker vir ewig in die geskiedenisboeke van Charleston Hill Sekondêre Skool gebrand wees. “Die eerste uitgawe van die skoolkoerant, destyds die CH News, het op hierdie dag verskyn.”
Tans is 12 “entoesiastiese leerders” by die koerant betrokke, van wie drie matrikulante is.
Newman verduidelik baie nuwe leerders het vanjaar by die redaksiespan aangesluit. ‘n Nuwe redakteur is dus nie vanjaar gekies nie, want sy wou eers die leerders kans gee om in hul kapasiteit te groei.

Die amptelike bestuur sal volgende jaar verkies word. Intussen bedien die leerders hul skoolgemeenskap as verslaggewers en fotograwe.
“Die koerant het van ‘n eenvoudige koerant tot ‘n volwaardige publikasie met kleurfoto’s en digitale uitgawes ontwikkel,” sê Barends.
“[Ons het] nou ‘n toegewyde redaksiespan . . . leerders, met mentors wat hulle ondersteun. Ons dek ‘n wye reeks onderwerpe – van skoolnuus, sportuitslae, kultuuraktiwiteite en leerderprofiele tot ernstige kwessies soos boeliegedrag, geestesgesondheid en akademiese prestasies. Die koerant het ook ruimte vir kreatiewe skryfwerk, soos gedigte en kortverhale.”
Barends meen CH Voice is nie net nóg ‘n skoolkoerant nie, maar bemagtig leerders op soveel verskillende vlakke in die lewe.
“Die koerant gee die leerders ‘n stem en ‘n gevoel van trots. Dit leer hulle verantwoordelikheid, spanwerk en kommunikasievaardighede. Vir baie van die leerders wat betrokke is, is dit ook ‘n springplank na beroepe in die media, onderwys en kommunikasie.
“Die koerant het ‘n nalatenskap van inspirasie, insig en gemeenskapsbetrokkenheid opgebou. Dit het geslagte leerders bemagtig en ‘n belangrike rol in die vestiging van ‘n sterk skoolidentiteit en kultuur van uitdrukking vervul.”



‘n Paar leerders, wat by die CH Voice betrokke is, het vertel oor hul betrokkenheid en wat dit vir hulle beteken.
Emely Nyamasoka (gr. 9) sê die redaksiespan is vir haar soos ‘n tweede familie. Dit is ook waar sy tot dusver oor die skryfproses geleer het.
“Ek droom daarvan om ná skool ‘n joernalis te word en ek glo dat die redaksiespan my sal help om my droom te verwesenlik. Dit is ‘n plek waar ek my kreatiwiteit kan uitleef en my vaardighede kan ontwikkel.”
Robyn Oerson (gr. 9) sê om ‘n lid van die redaksiespan te wees, beteken vir haar baie.
“Dis ‘n plek waar ek net myself kan wees en my kreatiwiteit kan uitleef.
Ek droom daarvan om ná skool ‘n lugwaardin te word. Ek voel die redaksiespan het my baie met my taalontwikkeling gehelp. Dis my broers en susters.”
Nóg ‘n redaksielid, Bordeaux September (gr. 9), sê die koerant het hom “laat besef dat Afrikaans my taal is en dit is baie waardig”.
“Ek wil eendag, as ek klaar is met skool, ‘n onderwyser wees en Afrikaans aanbied. Die media het my gehelp om meer op die berigte wat ek skryf, te konsentreer. Die skoolmedia het my laat besef hoe lekker Afrikaans is.”
Intussen pronk CH Voice met ‘n paar toekennings, waaronder die tweede plek vir die beste nuusfoto en byskrif asook naaswenner vir die beste nuusberig.
Die koerant word kwartaaliks uitgee. Dit word in ‘n gedrukte weergawe en ook digitaal uitgegee.






You must be logged in to post a comment.