Foto ter illustrasie. Foto: Jana Scheepers

Klapmuts se plaasgemeenskap is die afgelope naweek deur ‘n gewapende huisrooftog deur klapmusrowers geteister, terwyl ‘n tweede voorval moontlik verhoed is toe ‘n plaaseienaar ‘n verdagte in sy spore gestuit het.

Inwoners van ‘n plaas buite Klapmuts is Sondagoggend vroeg, omstreeks 02:30, in hul huis langs die R101, oftewel die Ou Paarlpad, in ‘n gewapende rooftog oorval toe vyf rowers toegang tot hul woning verkry het.

Die plaas is geleë in die rigting van Kaapstad, naby die kruising van die R304 en die Ou Paarl-pad.

Volgens ‘n ingeligte bron het die inbrekers glo die sitkamer se veiligheidshek met ‘n koevoet oopgebreek om die huis binne te dring.

Volgens sers. Madilyn Dombas, ‘n woordvoerder vir die Klapmuts-polisie, het ‘n inwoner in ‘n kamer in ‘n huis op die plaas aan die slaap geraak en toe wakker geword van ‘n harde geluid. Toe hy sy oë oopmaak, het hy ‘n onbekende man met ‘n klapmus, rubberhandskoene en ‘n koevoet in sy hande in die kamer gewaar.

“Die inbreker het toe aan die inwoner gesê hy moet stilbly en hom na ‘n ander kamer geneem.”

Toe die inwoner na die ander kamer is, het hy nog vier mans – almal met klapmusse en rubberhandskoene – gewaar, waarna die rowers deur die huis geloop en drie selfone, juweliersware, geld, skootrekenaars en ‘n soundbar gesteel het – alles ter waarde van ongeveer R64 000, het Dombas gesê.

“Dié voorval dien as herinnering dat inwoners van die (Klapmuts-) omgewing waaksaam moet bly. Veiligheidsmaatreëls moet ingestel wees en ‘n aktiwiteite behoort onmiddellik by die polisie aangemeld te word. Inwoners word ook aangemoedig om na mekaar se veiligheid om te sien,” het die anonieme bron gesê.

In ‘n afsonderlike voorval is ‘n vermeende boef in sy spore gestuit waar hy by ‘n plaas langs die Proteapad naby die bessieplaas, wat sowat ‘n maand gelede die teiken van ‘n plaasaanval was, se hek gehurk het.

Volgens Erica de Villiers, woordvoerder vir die Klapmutsplaaswag (KFW), het die plaaswag omstreeks 20:30 ‘n noodoproep van die plaaseienaar ontvang.

Volgens haar het die eienaar se veiligheidstelsel beweging by sy plaas se hoofhek gewaar, waarna hy ‘n flitslig na die gebied geskyn en ‘n man geklee in ‘n swart broek en baadjie gewaar het waar hy in die lang gras gehurk het.

Die man se gesig kon egter nie gesien word nie.

Die Paarl-polisie, wat blykbaar hierdie voorval ondersoek, het nie op Paarl Post se navraag gereageer nie.

Die KFW- en Klapmuts-polisie is dadelik in kennis gestel, waarna KFW-lede die gebied gefynkam het om “moontlike ontsnappingsroetes toe te maak”, volgens De Villiers. Twee private veiligheidsmaatskappye was kort ná die noodoproep ook op die toneel. Twee beamptes het infrarooi toestelle gebruik waarmee die gebied deursoek is, maar dit was sonder geen sukses.

Hierdie twee voorvalle volg amper ‘n maand ná die plaasaanval op die bessieplaas langs die Proteapad. In dié plaasaanval en rooftog het ‘n egpaar omstreeks 02:00 wakker geskrik nadat hul slaapkamervensters stukkend geslaan is en drie rowers toegang verkry het.

Die rowers was met onder andere ‘n geweer gewapen, waarmee skote afgevuur is. Dit was egter volgens die Klapmuts-polisie leë patroondoppies.

Die egpaar het hulle in hul badkamer toegesluit en hulp ontbied.

Van die gesteelde eiendom sluit in, ondermeer, elektroniese toestelle en beursies.

Die polisie ondersoek blykbaar die moontlikheid dat vier oortreders by die aanval en inbraak betrokke was, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

Die Klapmuts-polisie ondersoek ‘n klagte van huisroof in verband met hierdie plaasaanval. Dit is onbekend of enigiemand al in hegtenis geneem is nadat die polisie nie op Paarl Post se navraag reageer het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article