Die Blue sanggroep. Foto: officialblue/ Instagram

Suid-Afrikaanse- en Drakenstein-aanhangers van die Britse popgroep, Blue, is ontsteld om te verneem dat die sanggroep hul vertonings na die land gekanselleer het, maar wat hulle nog meer ontstel, is die feit dat hulle nie hul kaartjieverkope se geld by die promotor teruggekry het nie.

Die omstrede Paarliet, Wynand de Villiers sit in die middel van die publiek en die kunstenaars se ongelukkigheid. De Villiers was al voorheen in die nuus oor die Ikoon-konsertreekse waarvan twee konserte gekanselleer is.

Nou is hy weer in die nuus oor die Blue-konserte en as eienaar van TopTickets, die kaartjieagent waar kaartjies vir die Blue-konserte gekoop is. Die Blue-musiekgroep sou op 14 Oktober in die SunBet-arena in Pretoria, en op 15 Oktober in die Grand Arena, GrandWest, in Kaapstad as deel van hul 20ste bestaansjaar-toer optree.

In ’n verklaring wat Blue op Instagram gedeel het, het die groep bevestig dat hulle nie meer na Suid-Afrika sal toer nie.

“Ongelukkig het die promotor wat ons bespreek het kontrakbreuk gepleeg en weens dit kan ons nie reis en optree nie. Ons span werk hard agter die skerms om nuwe datums saam met ’n nuwe promotor vas te stel sodat ons volgende jaar kan terugkeer. Maar intussen raai ons julle sterk aan om ’n volle terugbetaling vir die vertoning te kry,” het die groep op Instagram geskryf.

Blue se verklaring op hul Instagram-blad. Foto: Skermgreep/ officialblue

‘n Inwoner van Kaapstad wat in die Paarl grootgeword het asook haar niggie wat in die Paarl woon, het in desperaatheid na die Paarl Post uitgereik.

Hulle het altesaam R3 000 verloor nadat hulle nie die geld vir hul kaartjieverkope, wat drie golden circle-kaartjies insluit teruggekry het nie. Volgens die Kaapse inwoner het hulle De Villiers op verskeie platforms probeer kontak insluitend telefonies, per e-pos asook deur die TopTickets-webtuiste wat intussen verwyder is.

Wynand de Villiers. Foto: De Villiers National Cycling/ webtuiste

Volgens haar was ‘n e-pos ook gestuur na support@toptickets.co.za wat hulle aangeraai het om De Villiers direk te kontak. Alle oproepe en e-posse bly onbeantwoord.

Intussen het Sun International, eienaar van die SunBet en Grand Arena, die konserte amptelik as gekanselleer gelys en swak kaartjieverkope as die rede aangevoer.

“Hierdie moeilike besluit is nie ligtelik geneem nie. Alhoewel daar opgewondenheid van lojale aanhangers was, was die algehele kaartjieverkope nie sterk genoeg om die vertonings volhoubaar te maak nie. Ons is werklik teleurgesteld om hierdie vertonings te kanselleer. Blue het ’n passievolle aanhangerbasis in Suid-Afrika. Ongelukkig het die kombinasie van laer as verwagte aanvraag en die breër finansiële druk op die vermaakliheidsbedryf veroorsaak dat die konserte nie lewensvatbaar is nie,” lui die kennisgewing.

Hierdie verklaring is teenstrydig met die van Blue wat beweer dat die konserte gekanselleer is weens kontrakbreuk deur De Villiers.

De Villiers was die afgelope weke in die spervuur ná berigte oor wanbetaling, ’n hofgeding en kunstenaars wat hulle aan konserte onttrek het. Die twis spruit uit die Theuns Jordaan-huldeblykkonsert in Amsterdam, waar kunstenaars beweer het hulle het nie hulle volle betalings ontvang nie.

Dit het ook tot ’n botsing met Kurt Darren gelei, wie se ikoon-konsert intussen gekanselleer is. Darren het beweer daar was geen kontrak tussen hom en die omstrede promoter geteken nie, dus was dit ook deel van sy besluit om by die Kurt Darren-ikoon-konsert weg te stap. Die Steve Hofmeyer-ikoon-konsert is ook gekanselleer.

Intussen het die Wes-Kaapse hooggeregshof ’n likwidasiebevel teen De Villiers se maatskappy, De Villiers National Cycling (ook bekend as Cool Concerts), toegestaan ná ’n skuld van meer as R2 miljoen aan die produksiemaatskappy Hit Factory.

De Villiers het tydens ‘n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê hy aanvaar die likwidasie, maar beweer hy is deur Hit Factory “oorgefaktureer” en weier om die betrokke bedrae te betaal. Die koerant het na De Villiers uitgereik, maar geen kommentaar is ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article