Gayton sê hy gaan PA onttrek uit alle koalisie-ooreenkomste en ook die RNE

Gayton McKenzie en Kenny Kunene (links). Foto: Patriotic Alliance/X
Gayton McKenzie en Kenny Kunene (links). Foto: Patriotic Alliance/X

Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance (PA), het Woensdag (24 September) tydens Nasionale Erfenisdagvieringe in Oudtshoorn onthul dat sy party uit alle plaaslike koalisie-ooreenkomste onttrek en dat gesprekke alreeds aan die gang is vir die PA om die regering van nasionale eenheid (RNE) te verlaat.

McKenzie het dié besluit hoofsaaklik toegeskryf aan wat hy bestempel as “minagting” deur koalisievennote en die dat die party se adjunkleier, Kenny Kunene, skynbaar “opsetlik” uit die Johannesburg-metro uitgesluit is.

Kunene het in Julie vanjaar bedank as adjunkleier van die party sowel as burgemeesterskomiteelid vir vervoer in Johannesburg, hangende die uitkoms van ‘n ondersoek oor hoekom hy by die vermeende moordenaar van Oupa John Sefoka, oftewel DJ Sumbody, se huis gewaar was.

McKenzie het Maandagaand (22 September) op ‘n regstreekse uitsending op Facebook vir Kunene vrygespreek van alle beweringe en gesê hy kan nou sy rol in die party hervat.

McKenzie beskuldig egter nou vir Dada Morero (ANC), uitvoerende burgemeester van die Johannesburg-metro, daarvan dat hy nie vir Kunene in sy posisie as burgemeesterskomiteelid vir vervoer wil herstel nie.

“Ons word behandel asof ons nie saak maak nie, ten spyte van die mandaat wat ons van kiesers ontvang het.

“Ons oorweeg dit nie net nie, ons onttrek uit die koalisies. Direk daarna sal ons begin met die prosesse om uit die RNE te onttrek.

“Ons kan nie só behandel word deur [die burgemeester van Johannesburg] Dada Morero nie. Hy kan nie eers vir ons mense water gee nie. Hy het iets teen ons. Ons sien hoe hy die mense van Westbury hanteer,” het McKenzie Woensdag aan die media in Oudtshoorn gesê.

Die PA het in verlede jaar se algemene verkiesing nege setels in die Parlement gewen – ’n prestasie wat baie waarnemers verras het en die party ’n sleutelspeler in die vorming van die RNE gemaak het.

McKenzie meen egter dat die party se rol in die regering nie gerespekteer word nie.

Hy het beklemtoon dat sy party bereid is om die nasionale en plaaslike koalisie-ooreenkomste te verlaat indien hul kommer nie ernstig opgeneem word nie.

Die dreigement plaas verdere druk op die brose koalisie-ordeninge wat ná die verkiesing gevorm is en kan verreikende gevolge vir politieke stabiliteit op nasionale en plaaslike vlak hê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article