Die berigte oor die dood van Charlie Kirk, die Amerikaanse konserwatiewe aktivis en stigter van Turning Point USA (TPUSA), het kommentaar uitgelok ver buite die grense van die Verenigde State van Amerika (VSA).

In Suid-Afrika, ‘n land sonder enige politieke, kulturele of geskiedkundige bande met Kirk self, het die verhaal ook nietemin nuusopskrifte gehaal.

Plaaslike media het daaroor berig, radiogeselsprogramme het dit bespreek, en sommige bekende Suid-Afrikaners, soos David Scott, bekend as “The kiffness”, het op sosiale media ondersteuning aan Kirk en sy familie uitgespreek, wat hom duur te staan gekom het en ‘n kontrak van R500 000 verloor het weens sy politieke sienswyse waarmee die handelsnaam wat hy sou bemark het, nie saamgestem het nie.

Dit bring ‘n belangrike vraag na vore: Waarom geniet Kirk se dood soveel aandag in Suid-Afrika terwyl dit klaarblyklik geen betrekking op die land se dag-tot-dag-dinge het nie?

Kirk was ‘n omstrede figuur in die Amerikaanse politiek. Hy het sy reputasie opgebou deur skerp kritiek op liberale ideologieë, sy verdediging van konserwatiewe waardes en sy vermoë om jong kiesers deur Turning Point USA, ‘n organisasie sonder winsbejag, wat konserwatiewe beginsels in Amerikaanse skole, kolleges en universiteite bevorder, te mobiliseer.

Sy styl was uitdagend, maar sy invloed binne sekere Amerikaanse politieke kringe onmiskenbaar – veral dié van Dondald Trump, wat ook by Kirk se begrafnis was en die verhoog met sy weduwee, Erika Kurk, gedeel het.

Tog was Kirk se profiel buite die VSA meer gedemp. Hoewel sommige Suid-Afrikaners sy loopbaan via aanlyn platforms gevolg het, was hy kwalik ‘n bekende naam hier. Waarom sou sy dood dus hier saakmaak?

Die eerste rede lê in die werking van moderne media, wat binne ‘n japtrap internasionale nuus plaaslik versprei. Maar, die volgehoue belangstelling in Kirk dui op meer as net nuus wat gelees word. Mense is gefassineer deur figure wat openbare debat oorheers, of hulle nou bewonder of verafsku word. Kirk se dood het ‘n dramatiese einde gebied aan ‘n lewe wat luid in die openbare oog geleef is.

Die feit dat hy omstrede was, het miskien die nuuskierigheid versterk met ondersteuners wat gerou het en teenstanders wat sy verdelende retoriek uitgewys het – alles op sosiale media.

‘n Breër kulturele dinamiek is ook aan die werk. Suid-Afrika is ‘n samelewing wat steeds worstel met identiteitskwessies en verskillende ideologieë. Al was Kirk se politiek in die Amerikaanse konteks gegrond, het sommige van die temas wat hy bevorder het, naamlik debatte oor geskiedenis, tradisie, ras en godsdiens, ‘n weerspieëling in die Suid-Afrikaanse konteks.

Charlie Kirk se dood het tog geen regstreekse invloed op Suid-Afrika se ekonomie, regering of sosiale weefsel nie. Dit raak nie die werkloosheidsyfer of beurtkrag nie. Sy dood is – volgens enige objektiewe maatstaf – irrelevant.

Maar tog beteken irrelevansie nie die afwesigheid van belangstelling nie en bly sy dood tragies. Die VSA is ‘n demokratiese land met vryheid van spraak en pers – nes Suid-Afrika – en Kirk het in alle werklikheid net sy vryheid van spraak uitgeoefen, hoe omstrede van sy uitlatings en hoe sterk sy oortuigings dalk in ander se oë kon wees .

Kirk is op 10 September omstreeks 12:30 (Amerikaanse tyd) tydens ‘n toespraak op die kampus van Utah Valley University in Orem, Utah, doodgeskiet. Hy was 31 jaar oud. Volgens die polisie was die aanval doelbewus en het dit plaasgevind terwyl Kirk met studente gesels het.

Tyler Robinson, ‘n 22-jarige inwoner van Utah, is kort ná die voorval in hegtenis geneem en van verskeie misdade aangekla, waaronder moord, die onwettige afvuur van ‘n vuurwapen, twee aanklagte van dwarsboming van die gereg, twee aanklagte van getuie-inmenging, en geweld in die teenwoordigheid van ‘n kind.

Die Amerikaanse staat het aangedui dat hy die doodstraf sal nastreef. Robinson het op 16 September sy eerste hofverskyning per video gemaak en word in die Utah County Jail sonder borgtog aangehou.

Kirk se begrafnisdiens het op 21 September in die State Farm Stadium in Glendale, Arizona, plaasgevind. Die seremonie het ‘n groot aantal mense gelok, insluitend vooraanstaande politieke figure soos Trump en sy vise-president, JD Vance. Die diens is wêreldwyd via verskeie platforms uitgesaai, met miljoene mense wat dit gekyk het.

TPUSA is ‘n konserwatiewe organisasie sonder winsoogmerk en is in 2012 deur Kirk gestig. Hul missie is om konserwitiewe studente te identifiseer en op te voed. Die organisasie, waarvan Kirk se vrou nou die uitvoerende hoof is, het takke op meer as 850 universiteits- en kollegekampusse reg oor die VSA, waar hulle ook studente registreer om te stem.

TPUSA het ook die “Professor Watchlist” in 2016 begin. Dit is ‘n webwerf wat akademici lys wat volgens TPUSA teen konserwatiewe studente diskrimineer en links-ideologiese propaganda in die klaskamer bevorder. Die webwerf het kritiek ontlok vanuit verskeie oorde wat dit as ‘n bedreiging vir akademiese vryheid beskou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article