Die Paarlse arboretum was oor die jare dikwels onder die vergrootglas – veral weens misdadige elemente wat elke nou en dan die kop uitgesteek het – maar die Drakenstein-munisipaliteit (DM) voer aan dat sy wetstoepassers, die Green Rangers, daagliks patroleer om die park veilig vir almal te maak.
Volgens Seraj Johaar, die DM se direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, patroleer die Green Rangers die arboretum sewe dae van die week tussen 08:00 en 18:00.
Die arboretum is ook onlangs opgegradeer toe die DM in 2019 ongeveer R7,5 miljoen van Engagement Global, ‘n Duitse agentskap wat klimaatsvennootskappe tussen Duitse munisipaliteite en munisipaliteite in die globale suide administreer, ontvang het.
“Engagement Global bied deur hierdie vennootskappe finansieringsprogramme vir projekte wat gekoppel is aan die versagting van klimaatsverandering en omgewingsopvoeding. Die DM het by een van hul programme aansoek gedoen, en ons [die DM se] aansoek is in 2018 goedgekeur. Die geld is in Desember 2019 na die DM oorgeplaas,” sê Johaar.
Die DM het altesaam R7 568 118 van Engagement Global ontvang.
Die doel van die finansiering was nie om die tuin in ‘n ontspanningsruimte om te skep nie, maar eerder om op ingrypings soos landskapsverbeterings, die installering van toegangspoortkenmerke en die opgradering van staproetes te fokus.
Gereelde stappers meen egter soveel meer kan met hierdie bedrag geld gedoen word, insluitend om ‘n skoner park vir verbruikers te bied, sowel as om veilig- heid te verbeter.
‘n Ander komponent van die projek was die beplanning en oprigting van ‘n omgewingsklaskamer by die fasiliteit, wat gebruik word om programme oor omgewingsbewustheid en -opvoeding aan te bied.
“Engagement Global het ná die projek ‘n oudit uitgevoer, sonder enige bevindings, en alle uitgawes is as toelaatbaar beskou,” sê Johaar.
Volgens hom is die waterfront-projek wat na die arboretum sou strek en reeds sedert 2007 beplan word, nog op die ys, nadat die Drakenstein-erfenisstigting (DHF) ‘n hofaansoek teen die ontwikkeling gebring het.
“Die munisipaliteit is van voorneme om voorstelle vir die ontwikkeling van die waterfront-gebied in Paarl aan te vra.”





