Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) het op die onlangse munisipale raadsvergadering aangekondig dat Wellington eersdaags weer oor ‘n toerisme-kantoor, of “toerisme-inligtingsentrum”, soos wat die munisipaliteit dit gedoop het, sal beskik.
Dié kantoor sal sy deure op 1 Oktober vanjaar by Hoofstraat 104, naby aan die Pick n Pay-sentrum, open.
Volgens Seraj Johaar, die DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, vorm hierdie inisiatief deel van die DM se “voortdurende verbintenis om toerismedienste te verbeter en plaaslike besienswaardighede reg deur die munisipale gebied te bevorder”.
Die nuwe sentrum sal ook kantoorruimte bied vir GoWellington, ‘n plaaslike toerisme-organisasie, wat die bemarking van Wellington as ‘n toeriste-aantrekking sal doen.
Volgens Johaar sal dié organisasie samewerking tussen die DM en plaaslike toerismebelanghebbendes verder versterk.
Sodra die DM se toerismekantoor in werking is, sal dit deur twee munisipale werknemers beman word, wat inwoners en besoekers gedurende gewone munisipale kantoorure sowel as oor naweke sal bystaan.
As ‘n besoekersinligtingsentrum sal die fasiliteit omvattende toerismeverwante inligting verskaf en gaste help om die kulturele, historiese en natuurlike aanbiedinge van Wellington asook die wyer Drakenstein-omgewing te ontdek.
Hierdie nuwe toevoeging vul die bestaande Paarl toerisme-inligtingsentrum by Hoofstraat 216 in die Paarl aan en verseker dat albei groot dorpe in Drakenstein goed toegerus is om toeriste te verwelkom.
Hierdie aankondiging volg nadat die munisipaliteit kritiek uit alle oorde ontvang het, onder meer van plaaslike politici, die Drakenstein-sakekamer en verskeie ondernemings, oor die onvoldoende bevordering van toerisme in die vallei.
Dit lyk immers of vordering gemaak word met die konsep-toerismeplan wat op 30 Julie vir openbare kommentaar gesluit het en in September voor die munisipale raad sal dien.
Die toerisme- raadgewende raad word ook gefinaliseer en sal na verwagting teen November amptelik aangekondig word.





