Groendal man (28) sterf by meisie se ouerhuis ná ‘bendegroep’ hom aanrand

Die toneel by Austin Stevens (28) se skoonouers se woning in Groendal waar hy die afgelope Sondag (3 Augustus) dood is. Foto: Rasaad Adams
Die toneel by Austin Stevens (28) se skoonouers se woning in Groendal waar hy die afgelope Sondag (3 Augustus) dood is. Foto: Rasaad Adams

Die Franschhoek-polisie sê hy het vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n man van Groendal die afgelope Sondag (3 Augustus).

Austin Stevens (28) is glo deur ‘n groep mans ná ‘n onderonsie met messe en pangas aangerand en het by die ingang van sy meisie, Gevileen Dawuwa (23), se ouerhuis aan sy wonde beswyk.

Die voorval het kort ná 15:00 Sondagmiddag plaasgevind.

Volgens wat Dawuwa Maandag aan Paarl Post vertel het, het die groep mans, wat vermoedelik aan die Wrong Turns-bendegroep behoort, ook met haar broer, Dian Dawuwa, slaags geraak.

Sy vertel dat Stevens, met wie sy vir meer as twee jaar in ‘n verhouding was, glo deur een van die vermeende bendelede op die hoek van hul straat gekonfronteer is.

‘n Stryery, wat toe in ‘n bakleiery ontaard, het tussen die twee uitgebreek.

Die vermeende bendelid het volgens haar toe sy vriende gaan haal waarna Stevens so erg aangerand is dat dit tot sy dood gelei het.

Devileen Dawuwa, meisie van die vermoorde Austin Stevens (28), een haar pa Rudolf. Foto: Rasaad Adams
Gevileen Dawuwa, meisie van die vermoorde Austin Stevens (28), en haar pa Rudolf. Foto: Rasaad Adams

Sy vertel dat Stevens daarin kon slaag om by haar ouers se erf, waar hy gewoon het, te hardloop.

“Hy het nog gelewe. Iemand het gehelp om die bloed te stop totdat die ambulans gekom het,” vertel sy.

Stevens is egter met paramedici se aankoms dood verklaar.

Dawuwa het erken dat Stevens ook deel was van ‘n groepering in die area, maar dat hy nooit by geweld betrokke was nie.

Stevens is oorspronklik van Kraaifontein waar meeste van sy familie glo woon.

Dawuwa se pa, Rudolf, sê die familie sal graag wil sien dat geregtigheid geskied.

“Dit is nie die eerste voorval nie. Hierdie groep kom gereeld weg met hierdie tipe dinge.

“Die polisie kry hulle nooit in die hande nie en daarom doen hulle net wat hulle wil.”

Hy sê een van die vermeende bendelede het glo gedreig het hy [die pa] “volgende is”.

'n Bebloede baksteen wat glo ook Sondag tydens die bakleiery gebruik was. Foto: Rasaad Adams
‘n Bebloede baksteen wat glo ook Sondag tydens die bakleiery gebruik was. Foto: Rasaad Adams

Lt. kol. Frederick Rossouw, stasiebevelvoerder van die Franschhoek-polisie, het navraag bevestig dat ‘n moordsaak ondersoek word.

“Een persoon is Sondag inhegtenis geneem en nog vier Maandag (4 Augustus). Al vyf verdagtes word tans deur die polisie ondervra,” sê Rossouw.

Dit is die tweede mesaanval in Groendal in minder as ‘n maand.

Paarl Post het op 7 Julie berig oor ‘n 17-jarige seun wat in hegtenis geneem is nadat hy glo ‘n 21-jarige man doodgesteek het.

LEES: Minderjarige (17) in hegtenis geneem in Groendal weens moord

Hierdie voorval het ook op ‘n Sondag plaasgevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article