‘n Foto van die Paarl van die Jan Phillips-bergpad af geneem. Foto: Jana Scheepers

Die Wes-Kaapse departement van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme het bevestig dat die instelling van ‘n toerismeheffing in die Wes-Kaap ondersoek word as ‘n alternatiewe bron van inkomste vir die toerismesektor – ‘n reëling wat ook moontlik in die Drakenstein-munisipaliteit (DM) toegepas kan word.

Volgens Daniel Johnson, ‘n woordvoerder vir dr. Ivan Meyer, die provinsiale minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, is die ondersoek deel van breër pogings om volhoubare finansieringsmodelle vir toerismeontwikkeling en -bemarking in die provinsie te identifiseer.

Soortgelyke toerismeheffings bestaan reeds in ander dele van die land, en die Drakenstein, as toerismekern in die Boland, kan baat vind by die implementering van ‘n soortgelyke stelsel.

‘n Toerismeheffing, hetsy vrywillig of verpligtend, kan dien as ‘n instrument om die plaaslike toerismebedryf te ondersteun – veral in gebiede waar groot druk op infrastruktuur en hulpbronne as gevolg van verhoogde toeristegetalle bestaan.

“Die Provinsiale Tesourie en die Wes-Kaapse departement van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme is besig om alternatiewe finansieringsmodelle vir die Wes-Kaap te ondersoek – deels om die onderfinansiering van toerismeontwikkeling en -bemarking in die provinsie aan te pak,” volgens Johnson.

“Opsies wat moontlik oorweeg sal word, sluit ‘n toerismeheffing in – hetsy vrywillig of verpligtend,” voeg hy by.

Hy benadruk egter dat die gesprekke steeds in ‘n vroeë stadium is en dat verdere navorsing en konsultasie vereis word voordat enige besluit geneem sal word. Sekere statutêre vereistes waaraan voldoen moet word, bestaan en daarom is dit nog te vroeg om verdere kommentaar te lewer, het Johnson gesê.

Toerismeheffings van gewoonlik 1% per transaksie is reeds in ander provinsies ingestel. Die liggaam wat hierdie vrywillige heffings administreer, is die Toerisme-sakeraad van Suid-Afrika (TBCSA), ‘n sambreel-

organisasie sonder winsoogmerk en wat die belange van die private sektor in Suid-Afrika se toerisme- en gasvryheidsbedryf verteenwoordig, volgens hul webtuiste.

Die TBCSA dien as ‘n gesamentlike stem vir toerismeondernemings reg deur die waardeketting en werk nou saam met die regering en ander belanghebbendes om die groei en volhoubaarheid van toerisme in Suid-Afrika te bevorder.

André Fourie, ‘n VF Plus-raadslid in die DM en ‘n aktiewe voorstander van toerismebevordering in die vallei, glo ‘n toerismeheffing kan wesenlik tot die ontwikkeling van toerisme bydra – nie net in die provinsie nie, maar ook plaaslik binne die Drakenstein-gebied.

Hy beklemtoon egter dat die munisipaliteit terselfdertyd ook sy eie strukture op toerismegebied moet versterk – veral deur die totstandbringing van ‘n funksionele Toerisme-adviesraad.

Dié raad word tans saamgestel, met die doel om toerisme in die vallei te bevorder deur gebruik te maak van die kundigheid van plaaslike rolspelers en sakelui.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article