‘n Groep inwoners van Saron en Gouda het die afgelope Vrydag (18 Julie) na die Gouda-windplaas langs die R44-pad opgeruk om onder meer die ontbinding van ‘n plaaslike trust te eis nadat die trustees van bedrog en wanadministrasie beskuldig is.
Die groep beweer dat minstens drie van die trustees onregmatig verkies is en dat die trust glo weier om finansiële verslae, wat so ver as 2015 terugdateer, aan die gemeenskap bekend te maak.
Paarl Post het op 20 Junie berig dat die Saron- Bekommerde inwoners-forum (SBI) toe reeds antwoorde geëis het oor beweerde onreëlmatighede met die bestuur van die trust.
LEES: Saron-groep eis antwoorde oor beweerde ongerymdhede met trust
Die Gouda/Saron Wind Farm Trust is in 2011 gestig toe drie maatskappye beplan het om grond langs die R44 tussen Saron en Gouda vir die doeleindes van die windplaas, wat in 2015 geopen is, te ontwikkel.
Die idee was dat inwoners van albei gemeenskappe begunstigdes van die trust sou wees en dat die windplaas se opbrengs in die vorm van dividende met die twee dorpe deur die trustrekening gedeel moes word.
Hierdie dividende moes dan vir gemeenskapsprojekte aangewend word.
Ingevolge die trust se grondwet moet die raad van trustees uit verteenwoordigers van al twee dorpe bestaan.
Dit is die einste SBI wat verlede week se optog gereël het.

Nadia Williams van die SBI het verlede maand beweer die drie inwoners wat Saron in die raad van trustees verteenwoordig het, is in 2020 op ‘n vergadering wat deur die destydse raadslid beroep is, onregmatig verwyder.
Hulle is toe met drie nuwe verteenwoordigers vervang, wat nog finaal deur die meester van die hof afgeteken moet word.
“Van ons klagtes is dat daar geen deursigtigheid is nie. Die huidige trustees wil nie met die gemeenskappe van Saron en Gouda praat nie. In ons memorandum vra ons dat die trusteeraad ontbind word en ‘n nuwe verkiesing plaasvind.
“Daardie verkiesing sal op die gepaste wyse moet geskied, al beteken dit die verkiesingskommissie (OVK) moet betrek word.
“In die verlede is vergaderings gereël en mense is sommer verwyder en verkies – sonder die gemeenskap (wat die begunstigdes is) se insae.
“Daar is nooit aangedui dat die doel van hierdie vergaderings was om nuwe lede te verkies of om lede te verwyder nie. Hulle het nog altyd eenvoudig die gemeenskap mislei,” het Williams by Vrydag se optog gesê.

Volgens Williams weier die trust steeds om finansiële verslae aan die begunstigdes bekend te maak.
“Ons wil weet waaraan geld oor die jare bestee is. Projekte waarby die gemeenskappe glad nie betrek is nie, word gefinansier. Dit word dan halfpad gedoen, soos in die geval van die muur om die Gouda-begraafplaas.
“Daar is ernstige finansiële ongerymdhede en hierdie trust wil eenvoudig nie met ons praat nie. Hulle kon nie eens iemand afvaardig om die memorandum te ontvang nie.”
Volgens Lesego Mosupye, die voorsitter van die raad van trustees, is die trust vooraf van die beplande optog verwittig.
Hy sê daar is glo vir die organiseerders aangedui dat geen van die trustees Vrydag beskikbaar sou wees nie.
Volgens Mosupye het die trust teen Dinsdag (22 Julie) nog nie ‘n digitale afskrif van die memorandum ontvang nie.
Mosupye het verlede maand gesê: “Ons is bereid om met alle gemeenskapslede in gesprek te tree, maar ongelukkig het ons in hierdie stadium bevestiging van die meester van die hof nodig voordat ons werk in gemeenskappe kan hervat. Ons vra dus vir geduld in dié verband.”
Mosupye het verwys na die drie nuwe lede wat ná die verwydering van die Saron-verteenwoordigers verkies is.
Hulle moet volgens hom nog deur die meester van die hof bevestig word.





You must be logged in to post a comment.