Die Stellenbosch-munisipaliteit en die Franschhoek-polisie het bevestig dat ‘n beweerde voorval in Franschhoek –waarin twee minderjarige susters en hul twee maats glo amper op 8 Julie voor ‘n apteek in die dorp ontvoer is – onwaar is.
Die vier kinders van onderskeidelik vier, ses en nege jaar oud, het in hul ouma se voertuig voor ‘n plaaslike apteek gewag toe drie veiligheidsmonitors van die Stellenbosch-munisipaliteit hulle genader en aan die voertuig se venster geklop het.
Daar is aanvanklik bespiegel dat die minderjargies per ongeluk die motor se deur oopgesluit het, waarna die veiligheidsmonitors probeer het om die kinders uit die voertuig “te gryp”.
Volgens Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, “het die drie veiligheidsbeamptes die minderjarige kinders in ‘n geslote voertuig opgemerk wat naby die Alpha Pharm-apteek in die hoofstraat van Franschhoek geparkeer was”.
“Toe hulle die voertuig nader, het hulle gesien dat een van die kinders angstig gelyk het en teen die venster geklop het in ‘n poging om aandag te trek en uit die voertuig te kom.
“Die moniteerders het die voertuig vinning ondersoek en een het probeer om te kyk of enige van die deure oop is, maar dit was nie die geval nie.
“Kort daarna het die oudste kind die [motor]deur van binne oopgesluit en aan die moniteerders gesê dat alles in orde is.
“Die veiligheidsmoniteerders het op grond van hierdie interaksie die toneel verlaat.”
Volgens Grobbelaar het die moniteerders “uit besorgdheid opgetree oor die welstand van die kinders wat hulle in die voertuig waargeneem het”.
Die saak is later dieselfde aand by hul toesighouer aangemeld en ‘n vergadering is die afgelope Dinsdag (15 Julie) met alle veiligheidsmonitors in die gebied gehou waartydens die voorval bespreek is.
Franschhoek het tans sewe veiligheidsmoniteerders in die sentrale sakegebied ontplooi, wat toegerus is met identifiseerbare toerusting wat deur die munisipaliteit voorsien is, insluitend ‘n T-hemp en pette met die kenteken van die munisipaliteit, asook ‘n glimbaadjie gemerk “Safety Monitor”.
Die Veiligheidsmoniteerders-program is sedert Januarie 2024 in werking.
Geen veiligheidskameras het die voorval opgeneem nie.
Lt.kol. Frederick Roussouw, die bevelvoerder van die Franschhoek-polisiekantoor, het bevestig dat geen klagte ná die voorval aangemeld is nie.





