“Daar is hulp hier in Klapmuts – reik net na ons uit vir hulp!”
Dit is die pleidooi van die gemeenskap nadat die lykie van ‘n baba die afgelope Saterdag (12 Julie) deur werkers van die Stellenbosch-munisipaliteit by ‘n pompstasie in Klapmuts gevind is.
Volgens die munisipaliteit het twee werkers en ‘n veiligheidswag op die gruwelvonds afgekom. Berading en ondersteuningsdienste is vir die werkers beskikbaar gestel en talle inwoners meen die ma van die kindjie het ook hulp nodig.
“Indien vroue in hierdie desperate omstandighede net die hulp kon kry wat hulle nodig het… dit is so hartseer,” het die span van Helderberg Baby Saver ná die voorval op sosiale media geskryf. Dié organisasie in Somerset-Wes bied ‘n afsetpunt vir ma’s wat nie kans sien om hul kinders groot te maak nie, om hul babas in die “baby saver” agter te laat. Hierna sal die span die baba ontvang en die nodige mediese en ander hulp bied om ‘n veilige tuiste vir die baba te kry.
Veronica Galant, die voorsitter van die Klapmuts-gemeenskapspolisiëringsforum, sê Saterdag se geval is skokkend en hartseer. “Die gemeenskap is geskok, maar ongelukkig is dit die tweede voorval. Verlede jaar is ‘n baba in ‘n toilet afgespoel. Indien die ma’s nie hul kinders kan grootmaak nie, is daar ander moontlikhede, maar om ‘n baba soos vullis weg te gooi, moenie een daarvan wees nie,” sê Galant.
Sy sê wat veral ontstellend is, is dat verskeie organisasies en groepe bestaan waar inwoners in desperate situasies vir hulp kan aanklop. Sy is deel van ‘n noodgroep vrouevrywilligers wat kan help en Galant, seld ‘n verpleegster, het ook die Victory Injury Care-stigting, wat mense in mediese noodgevalle help, gestig. “Wat net so hartseer is, is dat ons dalk nooit sal uitvind wie die ma is nie. Sy het self hulp nodig. Wat as dit dieselfde mamma is van verlede jaar? Mammas, daar is opsies – dalk is daar ‘n paartjie wat graag ‘n kindjie wil hê en na jou kind kan omsien as jy nie kan nie.”
Die polisie ondersoek die voorval en enigeen met inligting word versoek om die Klapmuts-polisie te kontak.
- Inwoners in soortgelyke situasies kan Galant by 078 604 4581 bel of die Helderberg Baby Saver-span via WhatsApp by 072 412 1863 kontak.





