Daar was vir ‘n geruime tyd sprake dat die openbare parkeerterrein oorkant die Paarl-polisiekantoor en die landdroshof, wat aan die Drakenstein-munisipaliteit (DM) behoort, verkoop gaan word.
Dié bewerings is op ‘n onlangse raadsvergadering op 27 Junie bevestig toe Dereck America van die DA in die Drakenstein die kwessie geopper het en verduidelik het wat met die grond gaan gebeur.
ANV-raadslid Moutie Richards wou op dié raadsitting weet hoe voorsiening gemaak gaan word vir besoekers aan die Paarl-polisiekantoor en landdroshof aangesien die openbare parkering tans hiervoor gebruik word.
Richards het beweer dat die oop ruimte wat gebruik word as parkering, asook die omheinde parkeergebied, vir R20 miljoen verkoop gaan word, wat “bo marksprys is”.
Volgens Seraj Johaar, DM se direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, is daar nog nie ‘n vasgestelde prys vir die terrein nie, met ‘n waardasie wat nog gedoen moet word.
Johaar het verduidelik dat die DM se raad in beginsel goedkeuring vir die voorgestelde transaksie verleen het, wat binnekort vir besware, openbare kommentaar en teenaanbiedings geadverteer sal word.
“Die munisipalitekit sal die nodige gesprekke voer met betrekking tot die voorsiening van parkering aan die [Paarl-polsiekantoor] en die landdros- hof,” sê Johaar.
Paarl Post het vertroulik verneem dat ‘n bekende sake-eienaar van die Paarl in die grond belangstel.
Meer inligting rakende dié moontlike verkoop sal eersdaags bekendgemaak word.
Let wel: Hierdie artikel is ná sy aanvanklike publikasie op 11 Julie aanlyn aangepas nadat die Paarl Post verkeerdelik berig het dat Dereck America ’n ANC-raadslid is, en nie van die DA nie. Verder is dit aangepas om duidelik te stel dat dit ANC-raadslid Moutie Richards was wat tydens die raadsvergadering navraag gedoen het oor alternatiewe parkeeropsies vir besoekers aan die Paarl-polisiekantoor- en landdroshof. Daar is ook bygevoeg dat Richards beweer het die verkoopprys van R20 miljoen vir die parkeerarea is “bo markwaarde”.





