Drie mans word gesoek na 'n huisroof in Franschhoek Sondagnag (8 Junie). Foto: Kurt Maske
Drie mans word gesoek na ‘n huisroof in Franschhoek Sondagnag (8 Junie). Foto: Kurt Maske

Vier vroue is Sondagnag (8 Junie) deur rowers oorrompel by ‘n gastehuis in Franschhoek.

Kol. Frederick Rossouw, stasiebevelvoerder by die Franschhoek-polisie, het die insident bevestig. Hy sê drie mans het omstreeks 01:30 die gastehuiskamer binnegedring waar die vier vroue geslaap het.

“Toe die mans die kamer binnekom waar die vroue geslaap het, het hulle die vroue gevra om alle waardevolle items te oorhandig. Die slagoffers was gesê indien hulle dit nie doen nie sal die mans hulle dood maak.

“Twee van die vroue is deur die verdagtes vasgebind en bevel om op hul mae te lê, terwyl die ander twee vroue op die bed gesit het.”

Nadat die verdagtes verskeie items bymekaar gemaak het, sê Rossouw, het hulle deur die agterdeur van die gastehuis gevlug.

“Een van die slagoffers het toe die paniekknoppie gedruk en die nodige dienste, insluitend die polisie, was kort daarna spoedig op die toneel.”

Volgens Kurt Maske, ‘n plaaslike paramedikus in die gebied, het die insident die vroue erg getraumatiseerd gelaat.

“Hoewel, die vroue fisies ongedeerd is, vertel hulle dat twee van die mans baie aggressief was. Die slagoffers is natuurlik baie ontsteld.

“Die rowers is net na 02:00 weg. Nooddienste was vinnig op die toneel. Ons het hulle gesoek. Drones is in die lug opgestuur om te kyk of die mans nie opgespoor kan word nie, maar geen luck. Ongelukkig kon ons niks optel nie.”

Rossouw sê die mans het verskeie items gesteel wat onder meer ‘n selfoon, handsakke, tekkies en juweliersware insluit.

Op 31 Mei het drie rowers omsteeks 01:30 ook toegeslaan op ‘n gastehuis in Franschhoek waar daar ook verskeie items soos elektroniese toestelle gesteel is. Een persoon is tydens die voorval gesteek en het gelukkig die insident oorleef.

Volgens Rossouw vermoed die polisie in hierdie stadium dat dit dieselfde drie rowers is wat by die nuutste voorval betrokke is.

“Die beskrywing van die verdagtes is dieselfde – twee lank mans en een korte.”

Enigeen wat meer inligting het oor die insident kan kontak maak met speursersant Marize Mentoor, van die Franschhoek-polisie, by 079 894 1720.

  • Die artikel is opgedateer sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article