Die nasionale Covid-19-inentingsprogram, waarin mense in die mediese veld, mense ouer as 60 jaar en personeel in basiese onderwys vir inentings geprioritiseer is, sal hom volgende op mense van 50 jaar en ouer toespits.
Mmamoloko Kubayi, die waarnemende minister van gesondheid, het Vrydag (25 Junie) op ’n media-inligtingsessie aangekondig dat burgers 50 jaar en ouer hulle nou sal kan laat registreer om ingeënt te word.
“Ons open registrasie vir alle burgers van 50 jaar en ouer van 1 Julie 2021 af, en ons sal die inentings skeduleer om op 15 Julie te begin. Ek moedig al hierdie burgers aan om te registreer en hulle te laat inent. As u ’n vriend, familielid, buurman of geliefde het wat 60 jaar en ouer is en nog nie ingeënt of geregistreer is nie, bring hulle asseblief saam,” het Kubayi gesê.
Die inentingsprogram het eers verlede Woensdag begin om personeel in die sektor vir basiese onderwys in te ent. Op die oomblik is mense in die sektor vir vroeë kinderontwikkeling en hoër onderwys nog nie ingesluit nie.
Kubayi sê: “Ek erken dat daar wel opvoeders in die sektor vir vroeë kinderontwikkeling en die naskoolse stelsel is wat buite rekening gelaat is met hierdie program, en verseker hulle dat werk aan die gang is met die departement van maatskaplike ontwikkeling en die departement van hoër onderwys, wetenskap en innovasie. Die sektor funksioneer anders as basiese onderwys, en dit was nie prakties moontlik om dit as deel van die program vir basiese onderwys in te sluit nie.”
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het bevestig dat vyf addisionele inentingsentrums in die Kaapse Wynland opgestel is. Die sentrums is naweke gesluit.
Die ligging van die sentrums kan op hierdie tydstip nog nie bekend gemaak word nie omdat hulle mense wat net vir die inenting wil instap, probeer vermy. Hammond sê onderwysers volg tans ’n geskeduleerde proses.
Besoek https://vaccine.enroll.health.gov.za/ of skakel *134*832# om vir die Covid-19-inenting te registreer.
*Registration for all citizens aged 50 years and older will be open from today, 1 July.





