Die seëvierende Elsenburg-rugbyspan wat vir Grootfontein geklop het om die Landboukolleges-rugbytoernooi te wen.Foto:


Die Wes-Kaapse departement van landbou se eie Elsenburg Kollege-rugbyspan het die Suid-Afrikaanse Landbou­kolleges se Rugbyweek-trofee gelig ná sewe uitmergelende dae van taai mededingende rugby. Ná ’n naelbytwedstryd teen Grootfontein het Elsenburg met die toernooi-titel weggestap met 14-6.

Die Elsenburg Kollege het ook saam met Grootfontein die trofeë gewen vir die meeste drieë gedruk, die mees invloedryke spelers en die beste wedstryd gewen.

Hierdie rugbytoernooi (spesifiek vir die Landbou­kolleges in Suid-Afrika), is in 1940 gestig deur I.P.J. du Plessis, die destydse hoof van Glen Landboukollege, wat in daardie stadium ’n rugbytrofee geskenk het waarvoor alle landbou­kolleges kon meeding. Dié kompetisie het egter eers in 1969 volle vorm gekry toe vyf landboukolleges by Glen, onder die sambreel van die SA Rugbyraad, vergader het. Grootfontein Landboukollege het die kompetisie gewen en die eerste ontvanger van die trofee geword.

“Ons is besonder trots om hierdie geskiedkundige toernooi vanjaar by Elsenburg te kon aanbied, aangesien ons die ryk erfenis en uitnemendheid van Elsenburg Kollege in 2023 vier, ter herdenking van 125 jaar van landbou-opleiding en -opvoeding,” het dr. Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, gesê.

Christiaan van Brakel (22), kaptein van die Elsenburg Kollege se rugbyspan, het gesê: “Om hierdie toernooi te wen was net die bonus. Dit was ’n ongelooflike ervaring om met vriende te verbind wat nou my broers is. Ons sal ons geluk probeer deur aan meer kampusrugbybyeenkomste deel te neem. Om hierdie toernooi te wen is vir almal, insluitend diegene voor ons.”

Die landboukolleges wat deelgeneem het was Elsenburg, Cedara, Fort Cox, Glen Agricultural College, Grootfontein, Tsolo en Taung.

Elsenburg het die SA Landboukollege Rugbyweek ’n rekord 41ste keer gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article