KYK | 3 sterf, 4 beseer toe vragmotor en bakkie op R44 naby Gouda bots

Die ongelukstoneel op die R44-pad tussen Hermon en Gouda Vrydagoggend (8 Augustus). Foto: Jaymor Titus
Die ongelukstoneel op die R44-pad tussen Hermon en Gouda Vrydagoggend (8 Augustus). Foto: Jaymor Titus

Drie mense is dood en vier ander beseer toe ‘n vragmotor en ‘n bakkie Vrydagoggend (8 Augustus) op ‘n mistige R44-pad tussen Gouda en Hermon gebots het.

Die ongeluk het omstreeks 06:50 plaasgevind.

Twee vroue en ‘n man tussen die ouderdomme van 31 en 50 is deur paramedici op die toneel dood verklaar, het Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, Wesley Twigg, by navraag bevestig.

Volgens Twigg is drie kinders tussen die ouderdomme van 6 en 11 op die toneel vir beserings behandel.

“Die kinders is na hospitale in die omgewing vir verdere behandeling vervoer. Die omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek.”

Hoewel dit nie deur Twigg bevestig is nie, het Paarl Post ook verneem dat nog ‘n volwasse man in die ongeluk beseer en in die hospitaal opgeneem is.

Hy sê die Tulbagh-polisie, waaronder die R44 tussen Gouda en Hermon val, ondersoek ‘n strafbare manslag-saak.

Paarl Post se susterskoerant, Weslander, het intussen die oorledenes geïdentifiseer as Randy Fillies, ‘n kranige St. Helenabaai-rugbyspeler, sy ma, Heidi Alexander, en sy suster, Rachèma Fillies. Al drie is van St. Helenabaai.

LEES HIER: St. Helenagemeenskap rou ná drie se dood, nóg familielede beseer in motorongeluk

Twigg het ‘n beroep gedoen op enigiemand met inligting oor die ongeluk om die polisie se Crime Stop nommer op 08600 10111 te skakel of dit anoniem via die MySAPS toepassing te rapporteer.

In ‘n ander ongeluk ook vroeg Vrydagoggend is een persoon dood op Blaauwklippenweg in Stellenbosch. Een ander insittende is ook in dié ongeluk beseer, het die ER24-paramedikus Kurt Maske, bevestig.

*Hierdie berig is aangepas nadat dit gepubliseer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article