Die polisie in Wellington is op soek na drie gewapende rowers wat Donderdag (1 Februarie) by die Wellington-poskantoor toegeslaan en met sowat R3 000, twee selfone en ’n skootrekenaar weggekom het.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder in Wellington, is die polisie omstreeks 17:00 oor die rooftog verwittig.

“Dit was naby aan toemaaktyd toe die drie gewapende rowers die gebou binnegestorm het. Hulle het die veiligheidswag vasgebind en is toe na die kluis waar hulle sowat R3 000 gesteel het.

“Die rowers het ook twee selfone en ’n skootrekenaar, wat vermoedelik vir werkdoeleindes gebruik is, gesteel.”

Barkhuizen sê al drie verdagtes is nog op vrye voet.

“Ons kon ook nog nie vasstel op watter wyse hulle van die toneel af gevlug het en of ’n voertuig gebruik is nie.”

Hy sê niemand is tydens die rooftog beseer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article