Die vroulike slagoffer het Saterdagoggend nog die bloeding van haar kop probeer keer om haar gevange verdagtes positief uit te ken.Foto’s: DFW


’n Vrou woonagtig op ’n plaas in die Sonstraal-gebied in Paarl het vanoggend (Saterdag 1 Julie) ’n noue ontkoming oorleef toe sy drie vermeende vrugtediewe heterdaad tussen die boorde betrap het.

Terwyl sy die vermeende skelms, wat glo ryp vrugte van die boorde afgepluk het, aanspreek, het een van die verdagtes haar na bewering met ’n voorwerp op haar voorkop geslaan.

So beskryf die Drakenstein-plaaswag (DFW) se bevelvoerder, Daan van Leeuwen Boomkamp, die grusame insident. Dit ná hulle blitsig op die toneel gereageer en die Paarl Post ingelig het dat ’n vrou om sowat 07:00 die oggend wreedaardig tussen die boorde van die plaas aangeval is.

“Ons het die verdagtes gevang!” het Boomkamp ook met trotse verligting gedeel.

Drie verdagtes is blitsig betrap na hulle ’n vrou op ’n plaas in die Sonstraal-gebied aangeval het. Hulle was glo besig om ryp vrugte te steel toe die slagoffer op hul afgekom het.

Hy verduidelik verder dat “terwyl sy die verdagtes aangespreek het, is sy met ’n stok op die kop geslaan. Sy het wel daarin geslaag om met ’n bebloede kopbesering huis toe te strompel en het haar man gebel om die DFW-noodradionetwerk vir hulp te ontbied”.

Binne minute ná die noodoproep was die aktiewe DFW-mediese noodhulppersoneel, sowel as die misdaadreaksiegroep van die DFW, op die toneel.

“Kort na die reaksie deur verskeie DFW-spanne, is die verdagtes aangehou en toe positief deur die slagoffer uitgeken. Die slagoffer is kort daarna na die hospitaal gehaas,” sê Boomkamp.

Die DFW-sekuriteitsvennoot, FADT, het twee reaksievoertuie ontbied om die aangehoue verdagtes te bewaak.

Die stasiebevelvoerder van Paarl-polisie kan, kol. Z. Xela, het bevestig dat “ ’n insident van aanranding by die Paarl-polisie aangemeld is, en ondersoek is deur speurders ingestel”.

Boomkamp het ten laaste bygevoeg dit is belangrik om te weet dat die slagoffer ’n belangrike rol speel om dringende noodhulp en brandweerdienste in kennis te stel vir behoeftiges om gehelp te word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article