Omstanders kyk hoe reddingsdienste by ’n dam op Allandale-gevangenis se terrein na die lyk soek. Foto’s: Rasaad Adams


Dylan Claasen (29) het die afgelope Saterdag (17 Februarie) in ’n dam op die Allandale-gevangenis se terrein verdrink nadat hy vermoedelik op ’n stuk skuimrubber gedryf en afgeval het.

Volgens kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos- polisiekantoor, het die voorval omstreeks 16:15 plaasgevind.

Reddingsdienste, waaronder die duikeenheid, het die dam ná die voorval gefynkam, maar kon die liggaam eers ’n dag later – op 18 Februarie – omstreeks 10:00 opspoor nadat dit in die vlak water gewaar is.

“[Die] Paarl-Oos-speurders is besig met ’n geregtelike doodsondersoek nadat twee vriende in ’n dam langs die Allandale- Korrektiewe Dienste gaan swem het. Dit blyk die oorledene het [met die hulp van] handgemaakte plastiek geswem, waarna hy afgeval het. Die polisie is deur die vriend wat saam met die oorledene geswem het, ingelig. Polisiedui­kers is na die toneel gestuur en die lyk is op 18 Februarie uitgehaal,” het Seekoei in e-pos verduidelik.

Polisie teenwoordigheid is sigbaar op die verdrinkingstoneel.

Die gemeenskapsaktivis Edgar Peterson het in ’n Facebook-video verduidelik dat Claasen se vriend hom probeer red het, maar omdat hy ook “gevrees het vir sy lewe” en om van die skuimrubber af te val, kon hy nie sy vriend red nie.

Volgens ’n anonieme bron het die oorledene deur die heining geklim en op dié manier onwettige toegang tot Allandale- gevangenis se terrein verkry.

Mense [oortreders] klim deur die heining en steel gereeld items van die perseel af.
Anoniem

“Mense [oortreders] klim deur die heining en steel gereeld items van die perseel af,” het die bron gesê.

Paarl Post verstaan dat die gebied waar die dam geleë is, gereeld deur oortreders wat beweerde misdrywe daar pleeg, gebruik word.

Dít het begin toeneem nadat die heining afgebreek is en intussen nog nie herstel is nie.

Volgens Seekoei “word geglo” dat Claasen en sy vriend onwettige toegang deur die heining gekry het.

Candice van Reenen, ’n woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het per WhatsApp-kommunikasie ook die voorval aan Paarl Post bevestig.

Volgens haar val die dam onder Allandale-gevangenis se bestuur en word dit vir landboubesproeiing gebruik.

Die Allandale-gevangenis ondergaan tans opgradering van die [gevangenis se] omheining om sodoende te verseker dat die [tronkterrein] veilig is en om seker te maak private mense kan nie toegang verkry nie.
Candice van Reenen

“Die Allandale-gevangenis ondergaan tans opgradering van die [gevangenis se] omheining om sodoende te verseker dat die [tronkterrein] veilig is en om seker te maak private mense kan nie toegang verkry nie.”

“Dit blyk egter dat [Claasen] by ’n onvoltooide deel van die omheining ingegaan het om die dam te bereik,” het Van Reenen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article