Hier is van die goed versorgde daggabome wat in ’n kweekhuis op ’n plaas in Klein Drakenstein gevind is.Foto:

Credit: SYSTEM

Die grootste daggafonds nog ooit in die Paarl is Vrydag gemaak toe die polisie op ’n Klein Drakenstein-plaas toegeslaan het.

Hier het die polisie op miljoene rande se onwettige dagga afgekom op wat oënskynlik ’n daggabewerkingsplaas is.

Die polisie het inligting ontvang oor ongerymdhede op ’n gedeelte van Dekkersvlei-plaas op die Keerweerderpad. Nadere ondersoek het daartoe gelei dat ’n taakmag saamgestel is en daar is op die perseel toegeslaan.

Die polisie het afgekom op ’n groot daggaplantasie, ’n bewerkingsaanleg waar dagga verwerk word, asook ’n groot hoeveelheid voorbereide dagga wat gereed was vir die mark.

Nadere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van 25 verdagtes, almal plaaslike inwoners, tussen die ouderdomme van 18 en 55 jaar.

Weens die aansienlike hoeveelheid vars en verwerkte daggaprodukte moet die geraamde waarde van die dwelms nog vasgestel word.

Volgens Paarl-polisiewoordvoerder kapt. Louise du Plessis is 11 van die 25 verdagtes Maandag ná hul verskyning in die Paarl-landdroshof op ’n waarskuwing vrygelaat, terwyl ’n verdere 11 verdagtes elk op R2 000 borgtog vrygelaat is.

“Petrus Koekemoer (20), David van der Westhuizen (40) en nog ’n 18-jarige meisie is elk op ’n borgtog van R37 000 vrygelaat.

“Die verdagtes sal weer op 6 Julie op verskeie aanklagte in verband met die misdaad hul verskyning in die hof maak,” het Du Plessis bevestig.

Die omstandighede rondom die saak word deur provinsiale speurders ondersoek met hulp van Paarl-polisie. Nog inhegtenisnemings kan volg soos die ondersoek ontvou.

Die Wes-Kaapse kommissaris van polisie, lt.genl. Thembisile Patekile, het die eenhede wat vir die operasie verantwoordelik is, geprys en ’n streng waarskuwing aan dwelmhandelaars gerig dat hul onwettige handel hoog op hul polisiëringsprioriteitslys sal bly.

Een van die invloedrykste rolspelers in die Suid-Afrikaanse daggabedryf, MK Malefane, sê hy gaan in sy hoedanigheid as voorsitter van die Vaal Cannabis Capital Consortium dié saak pak.

“Ek gaan verseker dat alle klagte wat teen al die verdagtes in die hof aanhangig gemaak is, opgeskort word.”

Malefane het aan Paarl Post verduidelik dat hy ’n sterk poging gaan aanwend om die saak in alle sfere van regering te beveg.

“Ek verskaf leierskap aan die Suid-Afrikaanse daggabedryf om namens daggaboere daadwerklik in alle sfere van regering betrokke te raak.

“Vaal Cannabis Capital Consortium is die enigste organisasie wat tot dusver ’n formele vennootskap met die Suid-Afrikaanse regering onderteken het.

“Ek wil verseker dat regulatoriese liggame soos Sapra die onderhandelingstafel sal nader om al die vrugbare geleenthede in dié bedryf, soos werkskepping ens., in ag te neem. Ek wil daggagroeiers in Suid-Afrika bemagtig,” sê Malefane.

Hy wil hierdie saak tot by die ministers van justisie en polisie en ook tot in die parlement voer.. A huge dagga factory was uncovered last week on a farm in Klein Drakenstein.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article