Die uitslag vir die Wes-Kaapse 2023-skoolaansoeke het van 27 Mei op die toelatingswebwerf van die provinsie se onderwysdepartement begin verskyn.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, sê sommige skole is nog besig om hul finale uitkoms van aansoeke op die stelsel te laai, en sal in sommige gevalle aandui dat aansoeke hangend is.

In so ’n geval sal dit op die webwerf as “pending” wys.

Ouers kan die volgende webtuiste besoek om te kyk wat die status van hul kinders se aansoeke is: https://admissions.westerncape .gov.za/admissions/login. Hulle moet dan na die “Track Application Status” gaan en dan op die leerder se naam klik wat onder die “Application Status”-opsie sal staan.

As die leerder by sy of haar gekose skool suksesvol is, kan die ouer die plek bevestig deur op die “confirm”-opsie te klik. In die geval waar ’n leerder by meer as een skool suksesvol is, moet ouers die opsie bevestig waarop hulle besluit het.

Ouers word dan gevra om die addisionele suksesvolle aansoek by die ander skool te onttrek deur op die “withdraw”-opsie te klik. Dit maak dit makliker vir skole om dan die plasing aan ’n ander leerder te gee.

Sodra hulle hul plasing by ’n skool bevestig het, moet ouers ’n gedrukte afskrif van die aansoek, sowel as gewaarmerkte afskrifte van die ondersteunende dokumente, binne sewe dae ná bevestiging op die stelsel met die skool of distrikskantoor by die skool indien hulle nie reeds ’n kopié by die skool ingedien het nie.

Indien ’n leerder nie by ’n skool aanvaar is nie, word die ouers aangeraai om eers die skoolbeheerliggaam te skakel om die redes vas te stel waarom die aansoek onsuksesvol was, duidelikheid te kry oor die toelatingsproses wat gevolg is en om te motiveer dat die aansoek heroorweeg word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article