’n Duidelke oplewing in sakebedrywighede is hier plaaslik te bespeur en die huidige aanduidings op ekonomiese gebied ondersteun ons gevoel hieroor. Ons grootste uitdagings bly Eskom en die politiek, wat terselfdertyd ook geleenthede vir ons as entrepreneurs, wat ’n verskil wil maak, inhou.
Die sakekamer het gedurende 2022 agt suksesvolle sakekoffie-byeenkomste vir lede aangebied. Terugvoer ná dié byeenkomste was uiters positief en lede kon vryelik nuwe kontakte met huidige en toekomstige lede, wat ook genooi is, maak. Hierdie bemarkingsaksie vir lede, wat nou al twee jaar lank aangebied word, groei van krag tot krag en val binne ons visie om suksesvolle sakenetwerke te bou.
Verder is ons ook besig om alliansies met ander groepe, wat sake van gemeenskaplike belang met ons deel, te bou. Een hiervan is die AHI met wie ons reeds ’n 75 jaar lange verbintenis het en ons gaan hierdie jaar weer die verhouding met hulle opneem soos voor die Covid-19-pandemie.
Die AHI het nog altyd ’n belangrike rol namens ons op die provinsiale vlak vervul danksy sy noue verhouding met die leierskap van die Wes-Kaapse regering asook ander aanbiedings wat ons lede skaalvoordele bied en hulle bemagtig om sake doeltreffend te kan doen. Kyk gerus na die AHI se webwerf www.myahi.co.za.
Die sakekamer sal hierdie jaar ook sterk fokus op tersaaklike sakeontbyte en werksessies gelei deur vakkundiges om ons aanbod aan lede af te rond.
Die verhouding wat ons met die plaaslike munisipaliteit handhaaf, bied verskeie geleenthede vir onderlinge samewerking, en ons gaan hierdie jaar weer aktief deelneem aan die GOP/IDP- openbare deelnameproses om te verseker dat ons wesentlike insette kan lewer in sake wat ons sakekamerlede en belastingbetalers regstreeks kan bevoordeel. Ons afvaardiging daarvoor, Johan Rademeyer en die Paarl Afrikaanse Forum onder leiding van dr. Carel Stander, staan gereed om dié belangrike taak aan te pak.
Werk aan ons opgegradeerde webwerf en die formalisering van ons sakeformaat (NWO/NPO) is ook in die pyplyn om die sakekamer te belyn met voldoeningsvereistes, wat in die huidige sakeomgewing al hoe meer noodsaaklik word.
’n Aantal opwindende projekte word vir hierdie jaar beplan, en sluit ’n groot bemarkingsinisiatief in om die meeste van die +-1 500 sakeondernemings in die stad onder die sambreel van die sakekamer te kry vir groter bedingingsmag en geloofwaardigheid.
’n Ekspo waar ons lede hul vaardighede en aanbiedinge aan die Wes-Kaap kan vertoon, word vir later vanjaar beplan.
Die sakekamer bly verbind tot ons doel om die stem van kleinsake in ons omgewing te wees asook om as ’n katalisator vir werkskepping te dien, sodat ons almal saam aan die Stad Drakenstein as ’n stad van uitnemendheid kan bou, waar geleenthede inklusief tot voordeel van almal beskikbaar gemaak sal word.
Ons wens ons lede en alle plaaslike sakelui ’n suksesvolle 2023 toe. Mag elkeen op jul eie spesiale manier sukses nastreef.
Ry die golf van sukses wat nou verbykom en luister gerus na Stef Bos se uitvoering, waarin hy sê jy moet luister na “Die Taal van jou Hart”.
Ons vertrou dat dit almal sal aanspoor om ’n gesonde balans te kan handhaaf tussen jou beroep en jou persoonlike lewe om van jou ’n afgeronde sakeleier te kan maak, wat op kreatiewe wyse goeie nuus self kan skep!
Luister daarna: https://www.youtube .com/watch?v=TSg2dg-PkrU&ab_ channel=DrWilhelmLichtenberg
Carpe Diem!
• Dirk Breytenbach is Uitvoerende Voorsitter van die Drakenstein-sakekamer.





