Die plaaslike ekonomie het vanjaar sy negatiewe groei, wat deur covid meegebring is, begin afskud en toerisme het weer sterk begin herstel – en so ook landbou, wat ’n goeie jaar beleef het ten spyte van ernstige uitdagings in die ekonomie.

Die makro-ekonomiese syfers vir SA toon ’n onverwagte toename in die nasionale ekonomiese groeikoers met ’n syfer van 1,6% in die derde kwartaal asook ’n toename in werksgeleenthede op nasionale grondslag. Toerismesyfers het dramaties begin herstel tot vorige vlakke, wat positiewe uitkomste vir die plaaslike ekonomie sal verseker.

Dit stem ons tot optimisme vir wat in 2023 vir ons voorlê.

Die plaaslike sakekamer het ook opwindende tye beleef en deur gefokusde bemarking veel meer lede bygekry as wat ons deur covid verloor het. Wat verder bemoedigend is, is dat ons gemiddelde ledeprofiel se demografie van ouderdom besig is om te verjong. Dit dui op die behoefte van jong entrepreneurs om in te skakel by ’n lede-organisasie wat na hul sakebehoeftes kan omsien. Ons visie om suksesvolle netwerke te bou, is bevestig deur die entoesiastiese ontvangs wat ons gereelde sake-koffiebyeenkomste geniet het. Dit is baie suksesvol en lede gryp dit aan as ’n bemarkingsgeleentheid om hul ondernemings te bevorder. Ons het dit die afgelope jaar maandeliks aangebied, maar danksy ’n sterk aanvraag word dit nou nodig om dit twee keer per maand aan te bied. Dit, te midde van ’n andersins besige program, dui op die veerkragtigheid van ons lede om hul bemarkingsboodskappe op ’n gepaste forum soos die sakekamer uit te dra.

Ons beplan om 34 geleenthede in 2023 aan te bied, wat ’n wye keuse van verwante sake-onderwerpe bied. Dit sal vroeg in Januarie oorgedra word. Lede het reeds gevra om sake-koffie- en ledebyeenkomste te borg, want ons byeenkomste word as ideale bemarkingsgeleenthede beskou.

Die AHI Weskaap, onder leiding van dr. Willie Cilliers en sy span, het ook die kop gelig ná die pandemie en hul jaarlikse kongres in George op 3 en 4 November was weer eens ’n sukses met vrugbare uitkomste. Een daarvan was toe ’n resolusie aanvaar is dat die sakekamer-familie nie meer die gebruiklike vrae aan nuwe lede probeer verduidelik nie, naamlik: “Wat kan ek vir die sakekamer doen?” of “Wat doen die sakekamer vir my?” maar eerder die vraag in die nuwe tydsgees te vra: “Wat kan ons lede vir mekaar in die sakekamer doen of beteken?”

“Dit is ’n opwindende gedagte wat ons in die toekoms goed te pas sal kom omdat die fokus nou nie meer so selfgesentreerd is nie, maar ons eerder inklusief sal laat begin dink oor die groter prentjie van ons organisasie en gemeenskap as ’n geheel.

“Goeie vordering is ook gemaak met ons rol as verantwoordelike burgers in verhouding met die munisipaliteit. Ons werk voortdurend om ’n werkbare alliansie met die plaaslike regering te vestig en het reeds gevalle gehad waar knelpunte doeltreffend die hoof gebied kon word sonder die negatiewe aktivisme wat in sekere kringe heers en net verdeeldheid en negatiwiteit saai eerder as die harmonie en vertroue wat vir die Stad Drakenstein as ’n stad van uitnemendheid nodig is.”

Die sakekamer vermeld graag twee mense wat in 2022 in die gemeenskap deur hul positiewe benadering uitgestaan en hul onderskeie take ten bate van die sakegemeenskap uitgevoer het.

“Hulle is Francis Nieuwoudt, wat die sakekamer op uitmuntende wyse gedien het deur uitstekende bemarking en ambassadeurskap in haar verteenwoordiging van ons organisasie, en Timotheus Cloete van die munisipaliteit, wat die beleggingsones in ons sake-omgewing behartig en geprys word vir die gemotiveerde wyse waarop hy sy portefeulje behartig.

“Sy volgehoue pogings toon deursigtigheid en beklemtoon die munisipaliteit se verbintenis tot plaaslike ekonomiese ontwikkeling.”

Die munisipaliteit word ook gelukgewens met sy soveelste skoon oudit, wat wys Drakenstein se belastingbetalers se sake is in goeie hande.

Die sakekamer beplan om in 2023 te formaliseer deur ’n maatskappy sonder winsbejag te registreer, want die ou vorm van ’n vrywillige vereniging is uitgedien en bestaan al sedert 1947. Ons transformeer dus deur na ’n meer gepaste struktuur te beweeg om aan die volle spektrum van bestuur en voldoening gehoor te gee.

Die sakekamer beplan ook om die jaarprogram te laat voldoen aan ’n wye spektrum onderwerpe, wat aan lede ’n leerervaring sal bied sodat hul sakeondernemings kan groei en hulle op hoogte kan bly van die nuutste tendense en denkrigtings wat tans gedy.

Die sakekamer wens sy lede ’n geseënde feestyd toe en hoop almal kan verfris en veilig vir 2023 terugkeer! . Dirk Breytenbach is die uitvoerende voorsitter van Drakenstein-sakekamer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article