Die DA in die Wes-Kaap moedig die matriekgroep van 2022 aan om aansoek te doen om die “Premier Advancement of Youth” (Pay)-program. Aansoek kan reeds sedert 9 Januarie gedoen word en die sperdatum is Vrydag 27 Januarie.
Pay is ’n 12-maande-internskap-program wat vir suksesvolle matrikulante die geleentheid gee om werksondervinding binne die Wes-Kaapse regering op te bou.
Die program verskaf aan matriekleerders tussen die ouderdom van 17 en 24 werksondervinding in een van 13 departemente.
Die Wes-Kaapse DA-woordvoerder van die premier, Christopher Fry, sê verlede jaar “het die premier bekend gemaak dat 60% van die 485 jongmense wat aan die 2022 Pay-program deelgeneem het vroue was”.
“Ek moedig die 2022-matriekleerders van oor die Wes-Kaap heen aan om van hierdie geleentheid gebruik te maak en aansoek te doen vir die program. Dit is veral voordelig vir diegene wat nie studiegeleenthede by hoëronderwysinstellings vir die huidige akademiese jaar ontvang het nie.
“Die Wes-Kaapse regering bly daartoe verbind om jongmense werksgeleenthede te bied sodat hulle hul vaardighede kan bevorder en die nodige ondervinding opdoen om in die arbeidsmag uit te blink,” sê Fry.
Vir meer inligting en om die aansoekvorm af te laai, besoek die webwerf www.westerncape.gov.za.





