Twee hoërskole, Bergrivier Sekondêr en Weltevrede Sekondêr in Wellington, betreur onderskeidelik die dood van twee leerders wat onlangs skielik oorlede is.

Die 14-jarige Trevino Albertus van Bergrivier het op 29 Mei gesterf nadat hy simptome van ’n moontlike maagvirus gehad het. Sy pa, Elverno Albertus, vertel sy seun het die betrokke naweek skielik siek geraak.

“Hy het die Saterdag (27 Mei) aanhoudend gebraak en ons het vir hom medikasie gegee wat toe gehelp het om die braking te stop. Die volgende dag was hy beter, maar nog nie homself nie. Ek en sy ma was toe apteek toe om vir hom nog medikasie te kry. Die nag het hy weer begin braak en ons het besluit om hom die Maandag (29 Mei) dokter toe te neem.”

Volgens Albertus het sy seun baie verswak terwyl hulle in die dokter se spreekkamer gesit en wag het en hulle het toe met hom na Paarl-hospitaal gehaas.

“Ek moes hom indra, want hy was baie moeg. Hy is onmiddellik gehelp. Die dokter het toe vir my laat weet dat hy êrens bloed verloor en ons het gesê daar was niks bloed in sy stoelgang of dit wat hy opgebring het nie. ’n Bloedoortapping is toe sommer dadelik begin, terwyl verdere toetse gedoen is.”

Albertus vertel hartseer dat sy seun dieselfde aand oorlede is. Hy het die dokter genader om te hoor wat die uitslae van die toetse is, en daar is bevind dat Trevino ’n aggressiewe vorm van leukemie (bloedkanker) gehad het. Die nuus was ’n groot slag vir die Albertus-familie omdat hulle nie eens geweet het of enigsins vermoed het dat Trevino siek was nie.

Die familie van Anthony Collins is ook in rou gedompel nadat hy ook skielik uit die lewe geruk is. Sy pa, Abraham Mars, sê dit is ’n groot slag vir hom en sy vrou, Elizabeth Mars.

Anthony het op 28 Mei tragies gesterf nadat hy op die Malmesbury-pad omgery is. Wat die seer erger maak vir sy ouers is dat hy gesterf het ’n dag ná sy sestiende verjaarsdag.

“Hy het vir ons gesê hy wil vir sy verjaarsdag by sy ouma wees en ons het hom soontoe geneem. Die Sondag, toe ek hom wou gaan haal, was hy reeds weg. Terwyl ek gery het, op soek na Anthony, het ek gesien ’n vrou het met haar voertuig langs die pad afgetrek. Ek het haar gevra of sy hom dalk langs die pad gesien het, en sy het vir my gesê dat sy sopas iemand omgery het. Ek het onmiddellik gesê dit is my kind. Hy het in die donkerte in ’n sloot gelê en ek het hom self gaan uithaal voordat die polisie op die toneel was. Hy was reeds dood.”

Die pa’s van albei seuns beskryf vir Trevino en Anthony as kinders wat lief was vir hul medemens en wat oop hande gehad het.

Die skole sê ook die seuns se sterftes laat ook daar ’n groot leemte.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article