Die 19-jarige Canan Moodie is ingesluit in die Springbokgroep wat na Australië toer.Foto: SA Rugby

Credit: SYSTEM

Die Paarl bars met trots met die nuus dat die jong plaaslike rugbyspeler Canan Moodie in die Springbokgroep ingesluit is.

Dié 19-jarige is as een van die span se 34 spelers, wat binnekort teen die Wallabies in Australië te staan kom, ingesluit. Die Springbokke draf op 27 Augustus (Adelaide) en 3 September (Sydney) teen die Australiese span uit.

Canan is ’n oud-leerder van Paarl Primêre Seunskool en die Hoër Landbouskool Boland. Hy speel ook vir die Blou Bulle as senter en vleuel.

Chantel Moodie, Canan se ma, sê haar seun is al van kleins af lief om met ’n rugbybal te speel. “Hy was nooit ’n kind vir wie jy vir Kersfees ’n karretjie of iets anders hoef te koop nie. As sy pa hom gevra het, het hy gesê hy wil ’n rugbybal hê.

“Dit is seker in sy gene om rugby te speel. Hy is al van kleins af dol daaroor en het gedurig saam met sy broer die bal sommer in die huis geskop.”

Sy glo haar seun het dié groot prestasie in sy jong rugbyloopbaan bereik omdat hy baie gemotiveerd, hardwerkend en nederig is.

“Hy is nie iemand wat emosie toon nie, maar die dag toe hy die eerste keer hoor dat hy vir die Springbokke opgeroep is, het hy gehuil. Ek as sy ma het ook net in trane uitgebars. Ons het altyd verwag dat hy daai prestasie sal behaal, maar op 19-jarige ouderdom was dit onverwags.”

Jacques Nienaber, die Springbokke se afrigter, sê hulle is opgewonde om te sien hoe Canan die volgende paar weke by die groep inskakel en hoe hy by die Bokke se strukture aanpas.

  • Paarl is bursting with pride with the news that the young local rugby player Canan Moodie has been included in the Springboks team.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article