Die 16-jarige Waide Davey van die Paarl vertrek einde Desember na Ierland om te gaan rugby speel.
Die Paarliet is tans ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Rustenburg in Noordwes en is ingesluit in die o.17-SA-rugby-akademiespan wat van 27 Desember tot 8 Januarie oorsee sal reis.
Volgens sy pa, Enrico Davey, het Waide vanjaar eers by Rustenburg aangesluit nadat hy gr. 8 en gr. 9 by die Noorder-Paarl Hoërskool voltooi het. Davey sê sy seun het al van laerskooljare af ’n groot liefde vir rugby en ook sport in die geheel.
“Hy was by die Laerskool Paulus Joubert. Sy rugby het begin met die juffrou (Sylvia Matthee) wat ook Grant Williams en Kurt-Lee Arendse afgerig het. Deur die jare het Waide al verskeie toekennings ontvang vir sy toegewydheid aan sport. Op laerskool is hy aangewys as Sportman van die Jaar en hy was selfs ook die o.13-basketbalspan se kaptein.
“Verlede jaar, in die jaarlikse derby teen Paulus Joubert Sekondêr, het hy uitgedraf as die kaptein van Noorder-Paarl se o.15-rugbyspan. Hy en sy span het daai wedstryd gewen. Waide het ook later die Boland-sewesspan gehaal en ook die Wes-Kaapse sewesspan, waar hy uitgedraf het as die onderkaptein. Vroeër die jaar is hy opgeneem in die Grand Khomo o.16-Luiperdspan, wat in ’n toernooi by die Hoër Landbouskool Boland gespeel het.”
Waide het vanjaar eers by Rustenburg aangesluit en volgens hom het hy al goed aangepas.
“Ek vind dit baie lekker in Rustenburg en ek het baie goed ervaar [tot dusver hier] in Rustenburg. Ek pas goed aan.”
Met die toer na Ierland op hande is die jongman gereed om te wys wat in hom steek.
“Ek sien die meeste uit om my talent in Ierland uit te beeld en meer ervaring in my sport op te doen. My droom is om ’n professionele rugbyspeler te word en my familie trots te maak en ander te motiveer en te wys als is moontlik deur God se heerlikheid.”
Davey beskryf sy seun as ’n hardwerkende en nederige mens met goeie maniere. “Hy hou nie daarvan as hy homself of sy familie teleurstel nie. Ek wens hy sal al sy drome bewaarheid.”
Sy ma, Hillary Davey, sê Waide maak haar as ’n moeder al van laerskool tot nou baie trots. “Ek is baie lief vir hom omdat hy so ’n gehoorsame seun is,” sê sy.
Waide se kostes na Ierland beloop R50 000 en tot dusver het hy en sy gesin reeds R25 000 ingesamel.
Skakel sy pa, Enrico Davey, by 081 566 3207 of sy ma, Hillary Davey, by 078 335 7373 om tot die koste vir sy toer by te dra.
. The 16-year-old Waide Davey from Paarl leaves for Ireland at the end of December to play rugby.





