Die gholfbaan by die Zwartenbosch Golf & Lifestyle Estate naby Humansdorp, wat eens as ’n juweel onder die negeputjie-gholfbane in Suid-Afrika beskou was, is só erg deur vandale tydens die COVID-19-inperkings verwoes dat dit onbruikbaar was.
Maar, die oop harte en hande van die Humansdorp gemeenskap wat saamgestaan het, het dié baan wat oorspronklik deur die Gary Player ontwerpspan uitgelê is, stelselmatig in ere herstel.
“As ek dink waar ons hierdie tyd verlede jaar was, is die baan se toestand nou niks minder as ’n wonderwerk nie!” sê Rheinard Meyer, president van die Zwartenbosch Gholfklub.
Tydens die inperkings is die setperke met gif bespuit, die waterpomp is gebreek vir skrootmetaal, gholfkarretjies se batterylaaiers en ander toerusting is gesteel. Masjinerie, grassnyers, en ruite is gebreek en die geboue is stuk-vir-stuk afgebreek en boumateriaal is weggedra.
Volgens Kobus Stapelberg, ’n Zwartenbosch Gholfklub-komiteelid, “het die setperke soos droë gebarste rivierbeddings gelyk. Die skoonvelde was ’n grasvlakte en die ruwe grond ’n oerwoud.
“Daarby was daar geen manier dat enige gholf in dié tyd gespeel kon word nie. Dus was daar geen inkomste nie en die skuld het opgehoop. Die krag is afgesny, gholfkarretjies moes opgegee word en personeel kon nie verder betaal word nie.”
’n Dringende besluit moes geneem word om óf boedel oor te gee, óf om die sinkende skip te probeer red.
“Daar was eenparig besluit om die gholfbaan te red en te herstel tot sy vorige glorie.”
Dit was veral die klubpresident (Meyer) en klubkaptein Maritz van Heerden, wat ingeklim en self met herstelwerk uit hul eie sakke begin het.
“Ek sou by die baan kom en dié prokureur kry waar hy sweet agter ’n rantsnyer, besig om bowwe oop te sny. En die makelaar kry waar hy stoei om waterpype te las, of met hande vol olie grassnyers probeer regmaak en selfs ysters aan mekaar sweis om nuwe toerusting te bou,” sê Stapelberg.
Hulle vasberadenheid het ander lede aan-gespoor om ook betrokke te raak. Talle het skenkings gemaak, ander het kom help werk, of toerusting gestuur om weekliks die rowwe veld te tem en dit weer speelbaar te maak.
Meyer sê hulle sien nou daarna uit om weer baie spelers te ontvang.
“Die baan is van hoë gehalte en tariewe is billik. By die klubhuis is daar heerlike kosse en drinkgoed én dit is veilig om te kom speel. Ons sal aanhou bou en vooruitgang nastreef en nooit oorgee aan verval nie,” sê Meyer.
- Vir meer inligting oor Zwartenbosch gholfbaan bel 042 291 0569 of stuur ’n e-pos na golf@zwartenbosch.co.za




