Die Suzuki XL6. Foto:VERSKAF


Wanneer party mense jou hand skud, sê hulle: “Vat vyf!”

Dan is daar diegene wat jou hand skud en sê: “Vat ses!” Regtig!

Dis gewoonlik diegene wat ’n Suzuki XL6 ry wat vyf ander mense vir ’n rit nooi wat dan die tweede opsie gebruik!

Hulle sal jou nooi om saam met hulle in hul ses-sitplekvoertuig te ry en dan kan jy sommer sien hoe spits hulle hul ore in die hoop om komplimente te kry.

Die komplimente begin gewoonlik nog voor mens in die motor klim, want dis nogal ’n netjies afgewerkte, mooi voertuig.

Die druk-knop aansluiter kan sommige mense geval wat nie van sleutels hou nie én as jy nie daarvan hou om jou nek bykans om te draai wanneer jy agteruitry nie, sal jy ook bly wees oor die monitor wat dit wat agter jou aangaan voor op die vermaaklikheidsentrum wys.

“Ag, ja, dis mos nou gemaklik,” sal iemand wat in die tweede van die drie rye sitplekke dalk opmerk.

“Ag, hoe, lekker, ek kan asemhaal,” sal iemand ook dalk opmerk, want die verkoeling gaan tot agter in die voertuig en ver-dwyn nie na die eerste ry sitplekke nie.

“Ag, man, ek hoor die woorde van die liedjie, is dit nou nie oulik nie?” sal nog iemand dalk ook daar heel agter opmerk want die luidsprekerstelsel is goed genoeg dat almal mooi duidelik kan hoor wanneer Bernice West uit volle bors sing: Die Here het my mooi gemaak.

Tydens ’n onlangse toetsrit van die Oos- na die Wes-Kaap, het manlief en seuna ook die musiek via die Bluetooth-tegnologie met die XL6 verbind en glo na al allerhande ou liedjies van Yazoo en die Pet Shop Boys geluister.

Dit was net hulle twee, ma moes agterbly en katte oppas terwyl hulle in gemak en met die komplimente van Suzuki dié toertjie kon aanpak.

Hulle moes die agterste vier sitplekke platslaan om luidsprekers en verskeie groot dose vol boeke in te kon laai wat onder andere by boekwinkels afgelaai moes word.

Volgens manlief het die XLS gemaklik hanteer (nie heen en weer oor die pad gewaai soos ons eie broodblik nie) en die 1.5-liter-vier-silinder enjin het glad gegrom. Dit was veral vir hom ’n plesier om te sien dat die XL6 nes die kleiner Suzuki’s min petrol verbruik. Dit was klaarblyklik iets tussen ses tot sewe liter per 100 kilometer.

Na hulle eers ’n draai in Stellenbosch gemaak het, is hulle via die Du Toitskloofpas na Swellendam. Weer het die XL6 met gemak die steilte geklim en hulle kon die natuurskoon bewonder sonder enige vrees dat die voertuig sou oorkook of ontplof (iets wat ons as gesin al meer as een keer beleef het!).

Terug oor die Oos-Kaap se grens moes hulle weer begin om slaggate in die pad te probeer vermy en klaarblyklik het die XL6 die uitdaging met gemak hanteer sonder dat dit gevoel het of die motor sou rol as daar onverwags aan die stuurwiel gepluk sou word.

Die manne was werklik beïndruk met die XL6 en glo dat dit beslis een van Suzuki se prima produkte is.

Met dié dat dit ook redelik bekostigbaar is, sal mens verseker dat daar in die toe-koms heelwat van hulle op die pad gesien sal word.

Selfs sal ek nie kla as die voertuig in my motorhuis sal staan nie, al kon ek net wat ook al in die huishouding benodig was gaan koop daarmee (moet sê ek was lanklaas so gewillig om takies en inkopies vir algar te doen. Wat ’n motor!)

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article