Die wrede moord op Laton Bosman (28), die pa van ’n vyfjarige seuntjie, verlede Donderdag, 17 Junie het die gemeenskap van Humansdorp geskok.
Laton word deur sy welbekende pa, Hilton Bosman van die ambulansdienste, as ’n gawe jongman met groot drome beskryf.
Hilton kon egter nie met die Kouga Express praat oor die voorval nie, maar die familie se woordvoerder, sy oudste broer, Rodney Prinsloo, het genoem dat die familie erg geskok is oor die omstandighede van die moord op sy broerskind.
“Laton het Dinsdagoggend, die 15de, na sy pa se werksplek gegaan op die dorp, en is net na 11:00 daar weg om sy hare te gaan sny.
“Laton, wat sy pa se enigste kind is, het gereeld gesorg dat sy hare altyd kort en netjies is,” het Prinsloo gesê.
Laton het nie die aand huis toe gekom nie, maar volgens Prinsloo was dit nie vreemd nie omdat hy (Laton) soms by sy oom se huis oornag het.
“Wat egter ontstellend was, is dat op Woensdagmiddag die 16de – net na 15:00 – sy pa ’n oproep van een van sy (Hilton se) vriende gekry dat sy seun glo geskiet was.
“Hilton het onmiddellik die polisie daarvan verwittig en hulle én hy het na die betrokke gebied toe gery, maar daar was niks gekry nie,” beskryf Rodney die begin van hul nagmerrie.
Die familie het toe onmiddellik ’n soekgeselskap van familie-lede en vriende bymekaar gekry en na Laton begin soek.
“Ons het al sy vriende én kennisse gekontak en selfs na die plekke gegaan waar hy dalk sou uithang, maar dit was als vergeefs.”
Dit het hul die hele aand gedoen en toe besluit om net na middernag terug huiswaarts te keer.
Hul het nie net in Moerasri-vier gesoek nie, maar ook in ander woonbuurte in en om Humansdorp.
Lede van die soekgeselskap het Donderdagoggend so voor 07:00 die bebosde Moerasrivier gebied gefynkam en het net voor 08:00 op die erg verminkte liggaam van Laton afgekom.
Volgens ooggetuies was die liggaam naby die rivier en was erg verbrand. Hy was ook glo in die kop geskiet.
“Ons as familie bied ’n belo-ning van R2000 aan vir inligting wat die polisie in die ondersoekwerk kan help om die skuldige(s) in die hande te kry. Ek kan te enige tyd by 081 596 2263 gebel word,”het Prinsloo bygevoeg.
Die Humansdorpse speurders volg egter alle leidrade op en is nog steeds op soek na enige inligting rondom dié moord.
Die polisie doen ’n beroep op die publiek om die ondersoekspan by 082 441 7613 te skakel met inligting en het genoem dat alle inligting as vertroulik hanteer sal word.
Laton se begrafnis sal Saterdag om 10:00 by sy ouerhuis in Philipstraat, Kruisfontein, en daarna by die Christen Gemeente in Gill Marcus plaasvind.


