Wooneenhede in komplekse is watervrate, en nie almal kan ’n watertenk oprig nie.
Die trustees van The View kompleks in St Francisstraat, Jeffreysbaai, onder leiding van die voorsitter, Pieter Botha, het slim planne gemaak om aan die inwoners genoeg veilige tenkwater te voorsien. Die kompleks bestaan uit tien blokke met ses wooneenhede elk. Die doel is om water te spaar, asook om ’n noodplan te hê vir die moontlikheid van Dag Zero. Botha was al by heelwat ontwikkelings betrokke in die eiendomsbedryf, asook ’n agent.
Duisende liters kan geoes word
“Ek het besef hier gaan baie waterverlore by die kompleks. Met die somme wat ek gemaak het, kom ons toe tot die slotsom dat met elke tien millimeter reën wat val op ’n honderd vierkante meter, kan ons ’n duisend liter water oes!” verduidelik Botha. Hulle het heel eerste geute en aflooppype by die tien blokke laat aanbring.
Veilige water
“Ons het oor die afgelope twintig maande tien tenks opgerig wat elk 5 000 liter water hou. Dié tenks het almal ’n filter wat vullis van die dakke opvang en op die tuine uitspoel. So nou en dan voeg ons net een koppie Jik in die tenk en laat die pomp dan die water sirkuleer. Die water is heeltemal veilig vir huishoudelik gebruik vir sestig wooneenhede.”
Geen koste
Daar was geen koste vir die eienaars nie, omdat die verbeterings aangebring is met die heffings wat maandeliks betaal word.
Hierbenewens is ’n sprinkelbe-sproeiingstelsel ook aangebring. Die surplus water word met ’n pomp wat op ’n waentjie met wiele gemonteer is, na die grasperke en tuine versprei met ’n opwipstelsel. Daar is selfs ’n buitestort aangebring waar inwo-ners die ergste seesand kan afspoel na ’n stranddag – alles met die opgegaarde water.
Botha sê die siviele ingenieur André le Roux het aanbeveel dat daar vir veilgheid ’n ekstra dreinerings-pyp van elke oorloop af aangebring word om water weg te lei.
Benut sonkrag
Daar is ook ’n ekstra sonpaneel by die hek aangebring om voorsiening te maak vir krag tydens Eskom beurtkrag. “Sonkragligte is ook vir veiligheid in die kompleks aangebring. Al die maatreëls het die waarde van die eiendom met tot so-veel as 50% laat styg,” sê Botha trots.
Sy raad aan ander komplekse is om die heffingsgelde van eienaars goed te bestee op die oes van water sodat hulle altyd toegang het tot water. “Reënwater is ons behoud!”





