Die uitsonderlike vrou wat bekend was vir haar liefde vir Wiskunde en musiek, Carin Ferreira, is op 29 September op Jeffreysbaai oorlede. Foto:VERSKAF


DIE uitsonderlike vrou wat bekend was vir haar liefde vir wiskunde en musiek, Tannie Carin Ferreira, is op 29 September op Jeffreysbaai oorlede.

Tot ’n week voor haar dood het Tannie Carin op 92-jarige ouderdom nog ekstra wiskunde-klasse aangebied.

Sy was ‘n wiskunde en fisiologie- onderwyseres op verskeie plekke. Sy het haar man, Louw Ferreira, op Graaff Reinet ontmoet. Sy het ook skoolgehou op Worcester, Namakwaland, Sunlands en Kirkwood. Asook by die Hoërskool Nico Malan in Uitenhage en die Hoër Tegniese Skool Daniël Pienaar in Uitenhage.

Tannie Carin het reeds sedert 1968 ekstra wiskunde-klasse aangebied. In ‘n radio-onderhoud twee jaar gelede het sy vertel dat ‘n naweek en vakansie vir haar te lank is sonder leerlinge, en het dan sommer self ‘n paar vraestelle uitgewerk. Graad 12-leerders was haar gunsteling, en driehoeksmeting was haar passie. Sy het erken dat sy verslaaf was aan haar vakgebied.

Die groot geheim om suksesvol te wees in wiskunde, is dat leerlinge hulle tafels móét ken.

Haar geheim vir lankslewendheid: “…Dis net genade. Ek bid dat elke dag ‘n vrugbare dag sal wees.”

Vir haar leerlinge was sy ‘n moederfiguur, en was geliefd by almal.

“My ma het nooit gekla nie, was altyd blymoedig, liefdevol, onselfsugtig, regverdig, en dankbaar,” sê haar dogter, Hetsie Scheepers. Haar moedertaal het sy suiwer gepraat, en dié wat haar goed ken, vertel dat sy nie eers ‘n vloekwoord geken het nie.

Tannie Carin het vroeër jare in die Kaapse Simfonie Orkes viool gespeel. Sy het ook kore afgerig. Bootreise was haar voorkeurmanier van reis en sy het talle onderneem.

Sy was die tweede oudste van vyf kinders, en word oorleef deur haar broer, Kobus Meiring, vyf kinders, 15 kleinkinders en 14 agterkleinkinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article