WhatsApp-groepies maak my gek! Vir elke komitee, klub, sport, sosiale groepe-ring, kerk of winkel is daar ’n vervlakste WhatsApp-groepie.

En as mens in die arbeidsmark is, is dit veel erger. Geen wonder mense loop of sit heeldag kop-onderstebo omdat die klein skermpie van die selfoon voortdurend aandag soek nie.

Ons is maar nuuskierige wesens en kan dit nie weerstaan om eers later op ’n meer gepaste tyd na die boodskappe te kyk nie. As die skermpie flikker, ’n liggie aangaan of kwê sê, gryp ons maar al te graag na die sakfoon. Erger nog, as dit nie ’n geluid maak of teken gee van ’n boodskap nie, kyk ons in elk geval of die battery nog sterk ge-noeg is, of die “silent”-knoppie af is, of die foontjie darem nog aan is. Jy kan eenvou-dig niks mis nie!

Die generasie wat VS (voor selfone) gebore is, weet al te goed dat mens daarsonder kan klaarkom.

Wat wo . . . tiekiebokse en landlyne was daar vir belangrike oproepe. Nie om alle-daagse gebeurtenisse oor jou aandete, dieet, kinderkiekies, boererate of menings met die wêreld te deel nie. Wie gee nou eintlik om? Maar net die wete dat daar ’n klein kykie in vreemde, of bekende, mense se lewens kan wees, maak dit onweerstaanbaar om te kyk en te lees.

Mense wil maar inpas en gereken wees. Dit beteken dat jy ingelig moet wees om te kan saampraat, of dalkies saam skinder. Sê nou net jou vrinne weet iets voor jy daarvan kon uitvind?

Dis dalk die jongste skandaal op die dorp, beurtkrag, byderwetse aktiwiteite, of selfs misdaad. Wees eerste om jou inligting te deel op die groep! is ’n dryfveer vir baie.

Die enigste betekenisvolle WhatsApp-groep waarby ek hou, is ons matriekgroep van 1977 van die Hoër Meisieskool Helpmekaar. Ná ons veertig jaar reünie, het ons ’n WhatsApp-groep begin met sowat 29 maats.

Ons het almal dieselfde wortels, en is saam deur puberteit. Op dié stadium van ons lewens het die lewe al met almal ge-beur: geskei, knievervangings, oumas geword, lewensmaats verloor, ernstige siektes oorkom, kinders aan die dood afgestaan en eie seksualiteit gevestig. Die waarskynlike selfdood van ’n maat, het die groep hegter gemaak.

Hier gee ons om vir mekaar. As dit nie ons internis mater is wat raad gee en ons deur COVID-19 lei nie, is dit liewe Alette wat kan sê wat die stand van planete is en wat die astrologie inhou.

Of ons hoor van die erge sneeu by Ansophie in Calgary en die hitte in Australië waar Annelize woon. Ziets is ons apteker en slimkop Amanda die rekeningkunde professor. Riana ontwikkel dierekospro-dukte, ook vir krokodille.

Maar bowenal bly ons maats met gemeenskaplike uitdagings in dieselfde lewensfase. Dié groep sal op my foon bly.

Veronica Fourie

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article