Nelia Jacobs, ’n graad 1 juffrou by Victory Christian Skool. Foto:JOANÉ AZENHA


KOUGA Express het met Juffrou Nelia Jacobs, gesoute graad 1–juffrou van Victory Christian Skool gaan gesels om te hoor wat belangrik is vir maats wat aan die begin van hul skoolloopbane staan.

. Dit is belangrik dat ouers hul kinders tot in die klas vergesel op die eerste skooldag. Dit verseker dat leerders veilig voel in die nuwe wêreld wat hulle betree. Dit is egter ewe belangrik dat ouers dan terugtree sodat hulle hul nuwe omgewing kan verken.

. Dit is glad nie nodig vir kinders of ouers om angstig te wees oor “grootskool” nie. Vertrou die onderwyser/es dat hulle bekwaam is om na jou kind om te sien en ook net die beste vir jou kind wil hê.

. ’n Mate van senuwees is wel normaal – ouers en kinders kan met ge-rustheid weet dat dit heeltemal normaal is om ’n bietjie vlinders in hul magies te voel voor so ’n groot dag. Dit is egter glad nie nodig om bang te wees nie. Indien die ouer gerus voorkom sal die kind dit ook so ervaar.

. Indien ouers positief en opgewonde is oor die skool en onderwy-sers, sal die kind dit ook so ervaar. Moet nooit onderwysers bespreek voor kinders nie. Indien daar enige ongemaklikheid of ongelukkigheid is, moet die klasonderwyser dadelik gekontak word sonder om die kind te betrek.

. Sterk strukture binne die ouerhuis laat kinders veilig voel en maak die oorgang van graad R na graad 1 baie makliker.

Onthou die volgende:

. Roetine skep standvastigheid. As kinders weet wat die roetine is rond-om opstaan en regmaak vir skool of slaaptyd verminder dit algehele angstigheid.

. Genoeg slaap en ’n goeie ontbyt is ononderhandelbaar. Kinders kan eenvoudig nie fokus indien hulle moeg of honger is nie.

. ’n Gesonde kosblik is uiters belangrik vir kinders om hul skooltake suksesvol te kan voltooi. Groeiende breine en lyfies het goeie petrol nodig.

. Pak vir hulle water in in plaas van sap of koeldrank – die suikerinhoud daarvan is dikwels hoër as wat ’n mens besef en dit maak dit weer eens vir die kinders moeilik om te fokus, wat emosionele uitbarstings en frustrasie tot gevolg kan hê.

. Om van die eerste dag af ’n huiswerkroetine in plek te sit beteken dat daar nie later gesukkel sal word om huiswerk te doen nie. Dit is dikwels vir ouers baie moeilik om met hul kinders huiswerk te doen, maar as die verwagting en roetine dadelik geskep word rondom huiswerk, sal dit baie makliker gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article