Niks bou samehorigheid, patriotisme en trots soos wanneer die Springbokke as wenners van die veld af stap nie.
Daar is ’n magiese gevoel van ‘dís ons mense’ wat die nasie laat juig en feesvier! Al was die oorwinning, telkens, net met een punt.
Die opgewondenheid oor onse swemmer Tatjana Smith wat as die oorwinnaar uit die Olimpiese swembad klim, laat ons almal na wenners voel.
En toe ons eie Dricus du Plessis wéér as die middelgewig kampioen in gemengde gevegskuns aangewys is, voel Suid-Afrikaners aandadig aan sy sukses…oorweldigend verheug!
Hy het selfs twee wenners aan sy sy gehad…Springbok rugby-spelers Eben Etzebeth en Siya Kolisi. Hulle kén die smaak van oorwinning! Die supersoet!
In ons Calvinistiese omgewing word ons egter geleer om nie ‘windgat’ te wees oor prestasies nie.
Veteraan joernalis, Ruda Landman, skryf in haar boek Weerskante van die lens hoe grootmense jou aanmoedig om goed te doen op skool, maar as jy die dag by die prysuitdeling jou prys ontvang, maak jy jou gou uit die voete.
Want sê nou die kinders of anders ouers dink jy is “kaas” of “wintie”. Mens moet dan van jongs af leer hoe om die groenoogmonster te hanteer.
Ek het self op skool nie juis presteer nie – darem ’n boekprys gekry vir goeie prestasie in Afrikaans, en so ’n paar sertifikate vir getroue bywoning.
En later jare by die VLV ook ’n bruin glasbord vir iets.
Dit was eers toe ek die joernalistiek betree op 29 jaar, dat ek dit gesmaak het om ’n wenner te wees. Ek het een van my heel eerste radiostories ingeskryf vir ’n joernalistieke kompetisie. Dit het gegaan oor my kerriekopkind se eerste o.9 rugbywedstryd. Daar was lekker byklanke, die kinders, ouers en onnies het wonderlike klankgrepe gegee, en ek het my gate uit geniet met die redigering.
Ek het gedink ek sal dit maar in die sport kategorie inskryf… maar die beoordelaars het toe sowaar ’n kategorie “Others” geskep, en my storie het daar gewen! Ek weet wen is nou nie alles nie, maar dis darem blêddie lekker! Trane van blydskap het oor my wange gestroom.
Sedertdien het ek in my loopbaan by die SAUK twaalf streekpryse en drie nasionale pryse ingepalm, en was finalis in ’n paar kompetisies. My grootste eer was om as Afrikoon aangewys te word deur die ATKV vir my bydrae in Afrikaans in die media.
Maar ons praat nie eintlik oor ons toekennings en oorwinnings nie. En tog, dit was welverdiend.
Ons behoort bly te wees, en ons moet vir kinders die woorde gee om ’n kompliment te aanvaar, en nie weg te klap nie.
Dis ook so dat as daar van wen gepraat word, moes daar iets gemeet kon word – hoogte, afstand, tyd of kwantiteit. Soms is dit baie belangriker om ’n wenner te wees van iets wat onmeetbaar is…soos vriendskap, hoe jy jou werk doen, liefde gee, omgee, luister en komplimente gee.





