’n Mens moenie die fout maak om altyd net sprokies in storieboeke te gaan soek nie, want hier op Suid-Afrikaanse bodem kry jy die mooi-ste lewende sprokie – en dít is die verhaal van Sylvester, die wêreldberoemde wegloperleeu uit die Karoo Nasionale Park wat in die Kuzuko-wildreservaat hervestig is. MARISKA SPOORMAKER het hom en sy trop gaan besoek.

Lions
Sylvester (links) kyk stip in die kamera. By hom is sy koalisiegenoot Fielies. Foto’s:HEILIE COMBRINCK

MEER as ses jaar gelede was die wêreld in rep en roer oor Sylvester die leeu wat uit die Karoo Nasionale Park ontsnap en 27 dae lank lyf kon bly wegsteek tot hy uiteindelik opgespoor, gedoof en terug geneem is na die park. Skaars ’n jaar later het Sylvester egter weer ontsnap. Toe moes daar dringend plan gemaak word, ander kon ’n doodskoot sy voorland word.

Die plan was die Kuzuko-wildreservaat in die Oos-Kaapse Karoo. Die naaste dorpie is Somerset-Oos. Kuzuko self grens aan die Darlingtondam-gedeelte van die Addo-olifant Nasionale Park. Maar hoe gaan dit deesdae met Sylvester noudat hy daar hervestig is, jeuk sy voete nog vir wegloop?

Die beste is om self te gaan uitvind en, laterig op ’n Vrydagmiddag hou ons stil voor die Kuzuko Lodge waar Gerhard de Lange en sy vrou Catharina ons vriendelik ontvang. Gerhard, algemene be- stuurder van die Kuzuko-wildreservaat, is die man wat Sylvester daar “ ingeburger” gekry het.

So ver as wat die oog kan sien, sien jy net boom, Karoobossies, heuwels en berge – dìt alles Sylvester se nuwe woonadres. Dit gaan ’n storie wees om hom in hierdie wêreld op te spoor…

“Nee,” sê Gerhard, “ons sal hom kry.”

Sylvester het ’n satellietsender halsband , Gerhard ’n spesiale antenna wat die sein sal opvang wanneer ons nader aan die leeumannetjie kom.

Ons ry oor vlakte, teen steiltes oor berge en deur dale. Kort-kort hou Gerhard stil, steek die antenna hoog bo die bakkie se dak uit. Ure lank maak dit ’n flou tiek-tiek-tiek-klank tot ons by ’n droë riivierloop kom en die sein kliphard TIEK-TIEK-TIEK.

Die leeuwyfies Nicka en Angel.

Lewende sprokie

Soos skimme kom Fielies en Sylvester uit die bos, loop om Gerhard se bakkie asof die bakkie nie daar is nie. Hul voetstap-klanke herinner aan die klank van iemand wat saggies probeer loop op dik pantoffels.

Hoe ongelooflik om Sylvester, die lewende sprokie (met ’n gelukkige einde!) so vlak langs die bakkie te sien verbyloop.

Maar dié ‘wonderwerk’ is danksy die inplekstelling van sekere stelsels, onder meer koalisievorming, moontlik gemaak.

Ook moes daarmee rekening gehou word dat, indien daar ouer leeumannetjies in dieselfde reservaat is, dit moeilikheid kan maak. Ouer leeumannetjies jaag die jonger mannetjies (soos Sylvester destyds in 2015, 2016) tot teen die reservaat se drade en sal daar met hulle afreken as die geleentheid hom voordoen, verduidelik Gerhard.

Sylvester het in sy drostertyd buite die Karoo Nasionale Park nagenoeg 371 kilometer geloop. Die veldwagters, spoorsnyers en bewaringsbeamptes wat hom in hierdie 27 dae gesoek het, het hom eers Spook genoem omdat hy letterlik soos mis voor die son kon verdwyn.

In daardie tyd het hy oor altesaam 27 plase ge-loop en het 28 skape, een Nguni-koei en een koedoe platgetrek.

Ondanks hierdie skade, was die oorheersende gevoel dat Sylvester nie die doodskoot moet kry nie. Toe hy uiteindelik gevang en terug in die Karoo Nasionale Park geplaas is, was daar ’n kollektiewe sug van verligting onder sy duisende aanhangers wêreldwyd.

“Ek glo Cecil, die legendariese leeumannetjie van Zimbabwe, het gehelp om Sylvester se lewe te red,” sê Gerhard. “Daar was baie groot ontsteltenis toe Cecil deur ’n Amerikaanse trofeejagter doodgeskiet is, en daarom glo ek daar is so baie moeite gedoen om hom lewend te vang en lewend te hou.”

Gerhard de Lange en sy Toyota Land Cruiser word gesien as deel van die trop.

Die besluit

Maar die volgende jaar (2016) speel Sylvester wéér met die dood toe hy vir ’n tweede keer uitbreek om weg te kom van die ouer leeumannetjies in die park wat hom bedreig.

“Iets het in my geroer toe ek dit hoor,” onthou Gerhard daardie dae nog baie goed, “ek het geglo sy lewe sal gered kan word as hy in die regte omstandighede geplaas sou word.”

Op daardie stadium was die Kuzuko-wildreservaat se omstandighede nie gunstig nie, aangesien twee ouer leeumannetjies, Matt en Kalahari nog daar was. Boonop was die twee jonger leeuwyfies Angel en Nicka ook op Kuzuko – dus die ideale elemente vir ’n volgende konflik met ouer leeumannetjies wat Sylvester weer op die loop sou kon sit.

Nadat Gerhard die groen lig vir die hervestiging van Sylvester in die Kuzuko-wildreservaat gekry het, sou die dinamika tussen Sylvester, Matt en Kalahari dus, asook die leeuwyfies, baie nou gemonitor moes word.

Deel van die onderhandelings met Sanparke was dat Sylvester ’n koalisiemaat (’n ander leeumannetjie) sou moes kry, want wanneer ’n leeumannetjie in ’n koalisie gebind is, is die kanse skraler dat hy sal probeer uitbreek en vlug.

Maar vir eers sou Sylvester alleen na Kuzuko gebring word. ’n Interessante verwikkeling was dat die jonger leeuwyfies, Nicka en Angel, ’n belangstelling in Sylvester begin toon het en selfs met hom al langs die boma begin stap het.

Matt en Kalahari het dit alles van ’n afstand stip dopgehou. Gerhard skryf in sy boek, Sylvester – Vagabond to Lion King, dat hy juis die bedreigende teenwoordigheid van die ouer leeumannetjies wou benut wanneer Sylvester se potensiële koalisiemaat uit die Addo-olifant Nasionale Park sou opdaag.

Een van die leeuwyfies groet vroegdag vir Sylvester en Fielies.
Een van die wyfies kies koers die Karoo-veld in by Kuzuko Lodge.

Die koalisie

“Dit kan tot drie jaar vir leeumannetjies neem om ’n koalisie te vorm. Ek het my hoop daarop gevestig dat die bedreigende teenwoordigheid van Matt en Kalahari die bindingsproses tussen Sylvester en die ander jong leeumannetjie vinniger sou laat geskied,” skryf Gerhard.

Uiteindelik is Sylvester se nuwe maat – Fielies –uit die Addo-olifant Nasionale Park na Kuzuko gebring en die twee het gou goed oor die weg gekom met mekaar. Nicka en Angel, die twee leeuwyfies, het ook al hoe meer kom kuier langs die boma-heining. Dié gekuiery het Matt en Kalahari jaloers aan die gebrul gesit – iets wat die binding tussen Sylvester en Fielies inderdaad bespoedig het.

Die laaste goeie merker waarvoor Gerhard gewag het voor hy Fielies en Sylvester uit die boma sou kon vrylaat, was vir die twee om ook te begin brul.

“Sylvester het eerste begin brul en toe Fielies óók op 8 November 2016 begin brul het, het Gerhard geweet hy en Sylvester is reg om uit die boma gelaat te word, want die twee mannetjies het ’n koalisie gevorm, die wyfies stel in hulle belang en hulle sien kans om as koalisie die twee ouer leeumannetjies, Matt en Kalahari, aan te pak.

Maar om dié konflik te vermy, is Matt en Kalahari eers na Kleinvlak, ’n seksie van die Addo-olifant nasionale park verskuif en toe na die Darlingtondam-gedeelte van die park.

Die res is, soos die mense sou sê, geskiedenis: Sylvester die wegloopleeu uit die Karoo Nasionale Park, nou Koning van die veld met sy koalisiemaat Fielies en sy wyfies Nicka en Angel.

En hoe lekker is dit nie om daar, in Kuzuko, vir Sylvester, die hoofkarakter in een van die mooiste dieresprokies wat in die ware lewe gebeur het, te kan dophou nie!

Dit is só spesiaal, só Suid-Afrikaans.

  • Besoek www.kuzuko.com vir meer besonderhede, ook oor die boek Sylvester, Vagabond to Lion King. Jy kan ook 042 203 1700 skakel vir meer inligting of ’n WhatsApp stuur na 063 681 3552.

Die e-pos adres is kuzuko@legacyhotels.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article