Hierdie is die verhaal van hoe ’n man ’n rampspoedige ongeluk oorleef, sy vaste beroep kwytgeraak, ’n boodskap in ’n droom gekry, dit nagevolg het en vandag weer vir homself kan sorg.
Sy naam is Freddie de Jager, inwoner van Hankey, maar Kaap St. Francis se bekende “walvis–man.”
In ’n rustige stemtoon vertel Freddie van dáárdie dag toe die lewe soos hy dit geken het, vir ewig verander het. Net die trek in sy oë ver-klap die intense fisieke pyn wat hy moes ervaar het.
“Die grinder (hoekslyper) het oor altwee voete gegly.”
Freddie buig vooroor, beduie met sy regterhand oor die voorkant van sy voete.
“Dit het baie lank gevat om gesond te word. Daarna was ek nog hoe lank in ’n rolstoel.”
Voor die ongeluk was Freddie vir 24 jaar ’n verwer van huise. ’n Onafhanklike man wat inkomste aanbetref. Hy het erg getob oor sy nuwe “toestand,” want aalmoese en afhanklikheid sit nie in sy gene nie.
“Ek is gebore in die Wes-Kaap in Villiersdorp in 1975, en het daar in Stanford skoolgegaan. Ek het my skoolloopbaan voltooi, maar daar was nie geld om verder te gaan studeer nie, toe het ek ’n verwer geword.”
Freddie praat weer oor die ongeluk, vertel hoe hy daarna gesukkel het.
“In daardie stadium het ek vir myself gewerk. My eie huis. En ek het gedink oeps, iets sal moet gebeur, want ek het nie ’n inkomste nie. Die government het my ses maande grant gegee. En toe begin dinge vir my nou erger raak as gevolg van finansiële probleme en so aan.”
Toe kom dáárdie Woensdagaand.
“Ek het ’n droom gehad. Die droom het drie keer op dieselfde aand aan my verskyn en in die droom het ’n stem vir my gesê dat ek walvisse moet maak.
“Die volgende oggend het ek my droom gevolg. Ek het opgestaan en gesien buite in die tuin lê daar drie stukke limestone (kalksteen). Ek het die grootste stuk gevat, die grinder uitgehaal en ek het die walvis van die stertkant na die kop begin vorm. Dit was agtuur die oggend en twaalf-uur, was ek klaar met die vis.”
Freddie het sy eerste walvis, geskep uit kalksteen, na ’n winkelier geneem. “Hy het vir my gesê dit is iets moois en besonders. Hy het my betaal vir die vis en ek was tevrede. Van daar af het ek net walvisse gemaak. Toe my voete herstel het, het ek nie teruggegaan na die verfwerk nie.”
Daardie dae was Freddie nog in die Wes-Kaap. Nadat hy in twee jaar beide sy ouers en sy broer verloor het, het hy besluit om na Hankey in die Oos-Kaap te kom omdat sy neef, Dirk Windvogel, daar woon.
“Toe ek nou hier in die Oos-Kaap (Kouga-streek) kom, sal ek nou ontdek, ô-ô, hier is nie limestone op Hankey nie. Toe het ek nou oorge-slaan van die limestone na hout.”
En nou hoor ’n mens orals van die “Walvis-man van Kaap St. Francis.” Freddie knik in-stemmend. Kaap St. Francis is die naaste kusdorp aan Hankey. Hy verkoop sy beelde daar.
“Daar is al heelwat mense wat by my walvis gekoop het. Van die visse is al oorsee. Die meeste is in Engeland, Amerika en Australië, en ’n hele paar plekke anderkant die water.”
Dit neem Freddie twee weke om ’n walvis van ongeveer 1,5 meter uit hout – die meeste afkomstig van afgesaagde uitheemse bome – te skep. “Jy weet mos, die windbrekerhout wat in die sitrusboorde gebruik word.”
Waar Freddie sit en gesels op Kaap St. Francis, troon ’n reuse-walvis op sy staander bo die ander houtskeppings uit.
“Hierdie groot walvis van sê-maar vier en ’n half meter het my vier en ’n half weke geneem om te maak.”
Net soos met die kalksteen waaruit hy sy eerste walvisse geskep het, begin Freddie met die hout ook by die stertkant van die walvis en werk dan kop toe.
“Dan meet ek die hout, sny die vinne, sit die vinne in en begin dan met die skuurwerk.”
Maar hoe sal hy wat Freddie is, sy walvis–skeppings beskryf?
“Ek sal my walvis as eie–uniek beskryf. Die meeste mense wat dit sien, sê dit is ’n wonderlike kunswerk en dit is baie mooi. Ek moet eerlikwaar sê, dit laat my trots voel, want ’n mens is gebore om met sy brein en sy hande te werk – eintlik met sy hele liggaam.”




