PRONT en taalryk gesels Suzanne Kruger oor die lagstorie van die feesseisoen.
Midde-in die dol tyd wanneer Jeffreysbaai wemel van buitemense, loop ’n ‘oom’ met ’n baard verby Suzanne se eiesoortige huis. Dit is weliswaar ‘n kleurvolle huis met karakter waar mense en haar geliefde diere tuis voel.
Maar die oogvanger is die yslike boom vóór die huis waaraan sy letterlik alles en nog wat ophang – van ’n koekroller tot ’n gieter tot ’n ragfyn droomvanger . . .
Die oom met die baard beduie hy het ’n boonste kunsgebit op die strand opgetel, en sê sonder omhaal “dê, hang dit ook in jou boom!”
Tot sosiale medialesers se vermaak, pos Suzanne ’n boodskap op Jeffreys Bay Online, en nooi die eienaar uit om sy tande te kom kry, of sy sal “oor twee dae” ’n gaatjie in die gebit boor en dan aan haar boom hang.
Die lesers het die storie koddig gevind en opgemerk dat die eienaar “eers op sy ‘rims’ moet hardloop” tot “dat daar nie eers ’n stukkie goud in is nie”.
’n Dag later kom die oproep sowaar: “Die valstande is myne. ’n Yslike golf het my in die see getref en die gebit is vort”. Monty Choo van Port Elizabeth het mooi gevra dat Suzanne nié die gat boor nie, maar hom tot daardie naweek gee om sy tande te kom haal.
Suzanne gesels ’n barshou oor haar projekte, die SPCA Charity Shop wat sy bestuur en bloed uit ‘n klip probeer tap om soveel geld moontlik vir die organisasie in te samel. Sy is ook komiteelid van Wyk 11 by Kouga Munisipaliteit, beywer haar vurig vir die welstand van diere en mense en is uitgesproke oor dié wat geen deernis of meelewing het nie.
Monty het later opgedaag om sy tande te kom haal – genadiglik het hy ’n ou stel ingehad.
“Ek sal maar seker vir die volgende groot brander moet wag om tande vir my boom te kry,” sê Suzanne.




