’n 86-jarige vroulike bestuurder het verlede Woensdag rondom 17:00 beheer oor haar motor verloor en teen die voorruit van Tops-drankwinkel gebots.
Volgens haar het haar voet vasgehaak en per ongeluk die petrolpedaal in plaas van die rem getrap. Die motor het vo-rentoe geskiet, deur sterk versperrings gebars en teen die buitevenster van die Spar-eiendom tot stilstand gekom. Die ruit het gebreek en drankbottels het oral gespat. Drank het oor die loopvlak voor die winkel gevloei.
Die eienaar van Spar, JP Venter, was in daardie stadium in ’n ander winkel nie vêr van Spar af nie toe die nuus hom telefonies bereik. Hy het hom na die toneel gehaas en op redelike chaos afgekom. Daar is dadelik werk van die pro-bleem gemaak en later die middag was die ruit herstel en het die opruiming momentum gekry.
Soos gewoonlik was daar allerlei sosiale kommentaar – simpatiek én onsmaaklik. Verskeie mense het gewys op die “gevaar” wat ’n senior burger op die pad kan wees en gesê dis nie maklik of altyd moontlik vir ouer mense om hul onafhanklikheid prys te gee nie. ’n Vroulike lid van die publiek het haar misnoeë oor sommige mense se kommentaar te kenne gegee en verwys na die skok wat die ouer vrou opgedoen het. Die ouer vrou het na verneem aanmekaar haar spyt uitgespreek en probeer verduidelik wat gebeur het.
Die Duitse motor is deur die versperrings beskadig.




