Daar is duisende boeke te koop vir ’n appel en ’n ei by die Vriende van die Biblioteek se boekwinkel aan die sykant van die Newtonsaal in Goedehoopstraat op Jeffreysbaai.
Vriende
Boekliefhebbers kan na hartelus daar snuffel na boeke van woordeboeke, geestelike boeke en sport, tot letterkunde, reisverhale en outobiografië. Dié boeke word alles goedgunstiglik deur die publiek geskenk.
Daar word goed rekordgehou van die boeke en dikwels is raar boeke só opgespoor vir mense wat al lank daarna gesoek het.
Die Vriende van die Biblioteek skenk die fondse wat so verkry word aan die nuut, opgeknapte, moderne biblioteek in Diazweg, sodat nuwe boeke aangekoop kan word.
Biblioteek
Tydens die opknappingswerk en gedurende die COVID-19 pandemie het ’n skeepshouer gedien as tydelike biblioteek. Die spoggerige biblioteek is vrolik beskilder en vorm deel van die Elsa van Lingen Gemeenskapsentrum.
Dit beskik oor meer as twintig rekenaars, ’n studielokaal en spesiale afdeling vir kinders. Boekwurms kan van 10:00 tot 17:00 boeke uitneem.
Hoewel die biblioteek onder die beheer van die provinsie se Departement van Kuns en Kultuur en ook die Kouga Munisipaliteit val, wat ook gebruikte boeke verskaf, is daar altyd ’n nood aan geld om die nuutse boeke aan te koop.
Die Vriende van die Biblioteek het in 1999 tot stand gekom.
Stigterslid Paul Sieberhagen sê, “Ons is almal vrywilligers met ’n liefde vir boeke en wil graag diens aan die publiek lewer. Ons winkeltjie, Book End, is Vrydae en Saterdae oop van 09:00 tot 12:00.”
Dis goed ingerig met rakke en uitstalplek, boeke is ordelik gerangskik en leesgenot vir elkeen.
Belangstellendes kan die voorsitter van die Vriende van die Biblioteek, Shaun Munn, bel by 074 4222 9033, of die tesourier Sheila Schwindt by 083 312 4467.




