Die vierrigting-stoptekens wat onlangs opgerig was, was vinnig weer verwyder.

Foto: Verskaf

Inwoners van die Lifestyle Estate in Jeffreysbaai is woedend oor die Oos-Kaapse verkeersowerhede se hantering van ’n stopstraat voor die landgoed.

Na jare se onderhandelings, briefwisseling, petisies en gesprekke oor die aanbring van ’n vierrigting-stopstraat, het daar niks van gekom nie. Daar is tans ’n tweerigting-stopstraat.

Die 122 huishoudings wat daagliks die besige R102 moet oorsteek, voel hul veiligheid is in gedrang.

“As die weer sleg is, of wanneer die son in mens se oë skyn, is dit regtig gevaarlik. Huiswerkers moet die pad oorsteek, en een is vroeër vanjaar omgery. Daar is wel ’n spoedbeperking van 60 km/h op die R102, maar daar word gereeld spoed van oor die 120 km/h gemeet! Swaar voertuie gebruik ook die toegangsroete,” sê Lukas Delport, ondervoorsitter van die kompleks se bestuursliggaam.

“Ons besef die R102 is ’n provinsiale pad, maar dit loop deur ’n residensiële gebied.” Die kruising by die R102 en Jakarandastraat word deur die hele Jeffreysbaai as toegangsroete na die hoofpad gebruik. Delport sê die provinsiale owerhede se verskoning is altyd dat daar nie geld is om ’n vierrigting stop aan te bring nie.

Na nog ’n onlangse poging het die Kouga-munisipaliteit die dringendheid ingesien en sowat drie weke gelede stoptekens en padmerke aangebring.

“Dit was ’n heuglike dag en ons was ingenome oor die ‘wonderwerk’,” sê Delport. “Dit het die gewenste impak gehad en voertuie se spoed is verminder, wat ’n groter mate van veiligheid gebring het.”

Maar die vreugde was van korte duur.

“Uit die bloute, sonder enige kommunikasie, het daar swaar voertuie, werkers en selfs ’n ingenieur opgedaag en die tekens en padmerke verwyder. Die ingenieur het gesê dit is in opdrag van die ‘provinsie’. Ons is uiters teleurgesteld en baie omgekrap oor die wyse waarop dit gedoen is. Ons is nou net mooi terug waar ons jare gelede was. Dis onaanvaarbaar!”

Volgens Delport is die rede dat daar glo nie ’n stopstraat op ’n provinsiale pad mag wees nie, nie water hou nie, want dié einste R102 loop deur Humansdorp, waar verskeie stopstrate voorkom.

“Wat ons betref, is dit nie meer ’n suiwer deurpad nie, maar eerder ’n toevoerpad,” aldus Delport.

Die Kouga Munisipaliteit se burgemeester, Hattingh Bornman, sê die Kouga-munisipaliteit het by die Oos-Kaapse Departement van Vervoer aansoek gedoen om stoptekens by die Lifestyle Estate oorkant Jakarandastraat op die R102 aan te bring om die veiligheid van padverbruikers te verbeter.

“Die stoptekens is verwyder nadat ANC Raadslid Wayne Petersen by die Oos-Kaapse LUR vir Vervoer, Xolile Nqatha, gekla het. Kouga-munisipaliteit het die nodige prosedures gevolg en is tans besig om na te gaan waar die probleem lê. Hierdie kruising is ’n hoë-risiko area waar voertuie met ’n onaanvaarbaar hoë spoed ry. Die teenwoordigheid van stoptekens het die algemene veiligheid van padgebruikers verbeter. Indien daar enige verdere ongelukke hier plaasvind, moet die Provinsie verantwoordelikheid neem.”

ANC Raadslid Wayne Petersen het bevestig dat hy die aanbring van die stopstraat by die LUR vir Vervoer gerapporteer het.

“Daar is prosesse wat gevolg moet word. Die plaaslike munisipaliteit kan nie net maak wat hulle wil nie. Ek dien op die raad, ek sou geweet het as die munisipaliteit aansoek gedoen het vir die vierrigting-stopstraat. En hulle het nie. Hulle moes aansoek gedoen het, en as die LUR dit goed-gekeur het, moes daar dan openbare deelname gewees het sodat al die mense van die Kouga insae kon hê.”

Die woordvoerder van die Oos-Kaapse Departement van Vervoer, Unathi Binqose, sê, “Daar is nou ’n tweerigting stopstraat, en die motoriste wat op die R102 ry, sal voorrang geniet. Een van die probleme is dat die munisipaliteit aksie geneem het sonder om die regte toestemming te kry. Dis nie ideaal om ’n stopstraat op ’n provinsiale pad te hê nie; ons wil hê die verkeer moet vloei. Daar kan miskien eerder gekyk word na ’n verkeersirkel,” sê Binqose.

Bornman hou vol hulle het die regte prosedures gevolg en al maande gelede ingedien. “Die veiligheid van ons bestuurders is belangrik, en ons meen ’n vierrigting stopstraat is die beste opsie. Die departement neem ons nie ernstig op nie, en daarom tree ons op, sê Bornman.

Die voorsitter van die beheerliggaam van die Lifestyle Estate, Ilse Potgieter, sê ’n verkeersirkel sal help, maar nie genoeg nie. “Dit sal ook implikasies vir ons hê omdat die ingang na die estate dan geskuif sal moet word om genoeg plek te maak vir ’n groot sirkel. ’n Klein sirkel sal van min waarde wees omdat mense sommer bo-oor ry. Ons meen ’n vierrigting stopstraat sal die beste wees,” sê Potgieter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article