Anneli Young kyk van haar gunsteling foto’s wat sy tydens geboortes geneem het. Foto: VERONICA FOURIE


DOULA kom van die Griekse woord wat “’n dienskneg van vroue” beteken. Hulle is opgelei as nie-mediese professionele lede van die span tydens die kraamproses.

Emosionele ondersteuning

’n Doula verskaf emosionele ondersteuning voor, tydens en ná die geboorte om die beste ervaring moontlik te maak. Die oud-mu- siekonderwyseres, Anneli Young van Hankey, is een van 35 doulas in die Nelson Mandelabaai-area. Sy het ses maande lank opleiding ondergaan by WOMB –Women Offering Mothers Birth Support.

“Ons staan die ma by met al die kontraksies, help met asehaling, motivering, ’n vooraf geboorteplan en inligting oor al die geboorte-opsies wat beskikbaar is. Ons kan selfs oefeninge gee om die baba te help draai,” vertel Young ywerig. “Ek kan ook help met borsvoeding,” sê sy.

“Ek was self onvoorbereid en voel ek was in ’n keisersnee geboelie. Ek voel ingedoen ná my drie keisersneë, en wens ek kon dit anders doen. Ek wou meer leer oor ’n doula. Ek het ook oor myself en my liggaam geleer. Ek besef nou hoe sterk vroue is. Dit is ’n baie vervullende diens om te verrig om vroue tydens die kraamproses te help om ’n nie-traumatiese ervaring te hê.”

’n Doula hanteer nie self die geboorte nie, maar werk nou saam met vroedvroue wat geregistreerde mediese verpleegkundiges is.

Suid-Afrikaanse vroue het keuses

Suid-Afrika is een van die min lande waar ’n keisersnee ’n opsie is. Young sê in meeste lande, veral Holland, is tuisgeboortes algemeen. Sy meen vroue moet veel meer ingelig word om eerder na-tuurlik geboorte te skenk. Gedu-rende die COVID-19-pandemie was daar ’n toename in tuisgeboortes. “Ek sal dit 100% aanbe-veel, tensy dit ’n risiko-geval is. Ek het my doel gevind – om mense te dien.”

Sy wil haar nou ook kwalifiseer as ’n bereavement doula om die aspekte van teleurstelling by geboorte te hanteer – byvoorbeeld wanneer dinge skeefloop en ’n keisersnee gedoen moet word.

Geboorte fotograaf

Young is ook een van slegs ses fotograwe in die land wat gekwalifiseer is om geboortes af te neem – tuis of in die hospitaal. Sy is geregistreer by die South African Birth Photographers Association. Dit magtig haar om ook in die tea-ter tydens keisersneë foto’s te neem, en te hou by die etiese ko-des, reëls en teaterprosedures. Sy het reeds veertien bevallings vasgelê. En selfs ’n watergeboorte op Jeffreysbaai.

“Dit was voorwaar ’n wonderwerk, so magic. Die fotograaf is soos ’n vlieg teen die muur. Ek moet dokumenteer wat gebeur, en die storie vertel van die konneksie tussen die ouers, baba, dokter en doula. Ek probeer dit so mooi as moontlik doen, hoewel dit soms grafies is. Dis nie almal wat die moed het om ’n geboorte af te neem nie.”

Die langste geboorte wat sy moes afneem het twee dae en nagte geduur. En die kortste slegs sewe minute!

Sy is ook een van ses in die land wat geaffilieër is by die organisasie, Now I Lay Me Down to Sleep, wat miskrame ná 22 weke kan afneem.

“Ons vind dat remembrance photography dikwels help in die he-lingsproses. Miskien nie dadelik nie, maar soms maande en jare later is ouers dankbaar dat dit gedokumenteer is. Dis seer, maar dis deel van hulle storie.”

Annelie Young kan gekontak word by 084 501 5585 of info@anneliyoung.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article