’n Groep van die Dorp van Dromers besig om die laaste afrondingswerk te doen aan die spoggerige labirint in Noorsekloofweg. Die struktuur is gegrond op ’n Middeleeuse uitleg. Foto:Veronica Fourie


Jeffreysbaai het binnekort een van die land se mooiste labirinte.

Talle motoriste en inwoners wonder al ’n geruime tyd oor die geskarrel en gewerskaf by die parkie op die hoek van Noorsekloof- en Dogwoodweg.

Die projek is geïnisieer deur die Die Dorp van Drome-groep en word bestuur in samewerking met die Kouga Munisipaliteit.

Een van die Dromers, Zuanda Badenhorst, het al jare lank die idee gehad om ’n reuse labirint vir die dorp te bou. Met die ondersteuning van Soria Swart, het die plan toe gestalte kry.

“Ons is baie dankbaar vir elkeen se hulp om dit moontlik te maak. Veral die munisipaliteit wat ons goedgunstiglik help met masjinerie, boumateriaal, gereedskap en mannekrag,” sê Badenhorst. Dit is ’n reuseprojek wat aangepak is om die dorp te verfraai.

Wat is ’n labirint?

’n Labirint word dikwels beskryf as ’n doolhof. Maar dit is nie korrek nie. Dit bestaan uit ’n enkele kronkelpad wat van die ingang na die middel lei, en mens loop weer dieselfde paadjie terug. Daar is dus geen kans om te verdwaal nie.

Dit word oral in die wêreld aangetref, en word gebou met klippe, blomme, skulpe, laventel en verskeie ander elemente.

Hoe om die labirint te stap

Dis as’t ware ’n vorm van meditasie terwyl jy stap. Sommiges sien dit ook as ’n camino pelgrimstog in die kleine. Die belangrike aspek is dat mens moet fokus op vrede en kalmte.

Die idee is dat jy diep asemhaal by die ingang. Jy kan vir jouself ’n mantra kies – soos ’n vers, ’n sin of enige positiewe gedagte wat jy in jou gedagtes herhaal terwyl jy stap. Loop met ’n oop gemoed.

Wanneer jy die middel bereik, sal jou ge-moed lig wees en jy behoort vrede en rustig-heid te ervaar. Vertoef ’n rukkie in die blomvormige gedeelte. Jy kan daar bid of net bewus raak van vrede. Stap die paadjie weer rustig terug op jou eie pas.

Oorsprong

Dit is ’n antieke spirituele manier wat gebruik is vir gebed, insig, balans en konneksie met God. Die gebruik van labirinte dateer uit die Middeleeue en is baie deur die Grieke gebruik. Hulle wou die goeie laat oorwin oor die slegte. Dit is met wissellende aantal sirkels gemaak met drie of meer.

Jeffreysbaai se labirint

Die paadjies is gemaak van sement, wat onderhoud maklik maak. Dit word omsoom met spekboomplante. Dié plante is eie aan die kontrei. Dis ook waterwys en goed vir die atmosfeer met die verskaffing van suurstof.

“Hierdie labirint se struktuur met elf sirkels is gegrond op ’n klassieke 1201 Middeleuse weergawe, met die tipiese ses-blaar blommotief in die middel. Dit kom byvoorbeeld voor by katedrale soos in Charte, Frankryk. Dit neem ongeveer ’n kwartier om van die begin tot in die middel die sowat 880m te loop,” sê Pieter Kok, die landskap-argitek wat die uitleg behartig het. Hannes Bekker sien om na die bouery. By die ingang sal daar vier staal-kolomme gebou word wat die vier aardtekens simboli-seer: water, lug, aarde en vuur.

Inwyding

Daar gaan sommer meer as een feesviering wees om die pragtige labirint in te wy.

Die Dorp van Dromers reël ’n piekniek op 8 Julie. Mense kan dan hul eie piekniekmandjie en kombers of stoele bring. Daar sal ook ’n feesgeleentheid aangebied word wat later aangekondig sal word.

Vind vrede by Jeffreysbaai se labirint.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article