DIE nimmereindigende twis tussen Kouga-munisipaliteit en die informele inwoners van die Astonbaai-karavaanpark, het die afgelope week weer vlam gevat.

Lize-Mari Knoesen het ’n anonieme brief aan Kouga Express voorgelê waarin beweer word dat die inwoners ’n paar dae gelede reeds vir drie dae sonder water was, omdat die munisipaliteit hul water sonder kennisgewing afgesny het.

Die skrywer van die brief beweer dat hy/sy en ander belanghebbendes na vele vrugtelose oproepe die munisipale kantore besoek het, waar hulle meegedeel is dat die watertoevoer beëindig is weens wanbetaling van die rekening. Dit het glo die inwoners sonder was-, drink- en water vir spoeltoilette gelaat. Hulle verweer is dat hulle op publieke grond woon en dat daar ’n hangende hofsaak is rakende die hele kwessie.

Dié probleem is vinnig op sosiale media versprei, en soos dikwels in die verlede, was daar baie mense wat dadelik ingespring het om te help. ’n Vroulike inwoner van die dorp, was op die voorpunt om nie slegs oproepe vir water te maak nie, maar ook vir ander voorraad. Lede van die publiek het tenks en waterskenkings en beloftes van finansiële bystand gemaak, die park is besoek en daar is met inwoners oor hulle nood gesels.

Kritiek

Slegs een buurman naby die park het oor die haglike toestand van die plek gekla, en hy is dadelik deur ’n koor stemme stilgemaak. ’n Ander bekende sakevrou van Jeffreysbaai het verwys na die verlede waartydens baie hulp deur onder andere kerkinstansies aangebied is, maar dat dit nie enige morele opheffing teweeggebring het nie. Sy is ook deeglik die kop gewas, omdat sy enige punt van kritiek durf opper het.

Die meeste van die kritici is oënskynlik onbekend met die lang geskiedenis van die park en die sosiale infrastruktuur. Hulle is onbe-wus van die ernstige en daadwerklike pogings wat al op sosiale, geestelike en fisiese vlak aangewend is.

Kringloop

Die kringloop herhaal homself: Alle nuwe helpers wat bewus word van die algemene probleme, voel hulle is die eerste en enigste mense wat bystand verleen. Kerke word dan gekritiseer omdat hulle nie help nie, maar die waarheid is dat kerke ’n empatiese pad met die inwoners gestap en vir ’n baie lang tyd op allerlei maniere gehelp het. Van dié hulp al dééglik misbruik gemaak is.

Werk is al aangebied wat aanvaar en binne twee uur gelos is; klere en kos en geld is in oorvloed uitgedeel. Een predikant het ’n jare- lange pad met die inwoners gestap – nie net geestelik nie, maar op praktiese, fisiese wyse. Tog beskryf een van die voorste huidige helpsters almal buite die kamp met dié woorde: “Net soos wat die kamp se mense skaam, teruggetrokke is, is die buitemense judgemental en hoogmoedig . . . ons kan eintlik mekaar help as ons net van ons troontjies klim . . .”

Ervaring in die verlede bewys hierdie tipe stelling as misplaaste kritiek.

Freddie Campher, Infrastruktuur- en Ingenieurs-raadslid sê: “Soos die waterkrisis voortduur, moes die munisipaliteit begin om waterdruk te verminder in areas waar ’n te hoë waterverbruik opgemerk is. In geen stadium was inwoners van die park sonder water nie, maar daar is slegs verlaagde druk ingestel.

“Die woonwapark behoort aan die Departement van Publieke Werke.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article