“Die volgende oorlog in dié land sal oor water gaan!” het ’n waterkenner meer as twintig jaar gelede by ’n kongres in Gqeberha gesê.
Ag bog! Het ek by myself gedink. Hoe kan dit nou wees? Sal water dan nou regtig opraak? Onmoontlik! En wraggies . . . hier is dit!
Wie sou ooit kon dink ons sou eerder stort as bad – om water te bespaar. Ekke wat so lief is daarvoor om in ’n borrelbad te ontspan. Daarin te lê totdat my vingers en tone oumensvel word. Nie meer nie!
Wie sou kon dink dat ons ’n emmer sou gebruik om die badwater (indien jy dit nog sou waag) of stortwater te gebruik vir die grootste watervreter, die toilet.
Sou ons ooit kon dink dat supermarkte rakke vol produkte sal hê wat toiletwater neutraliseer, sodat dit nie gespoel hoef te word na elke gebruik nie. Een van die houers se etiket lees dat mens deur die gebruik hiervan tot 6 800 liter water kan spaar met gebruik van een bottel van die produk.
Ons weet nou al goed wat bete-ken grys water. Daardie gebruikte water wat die wasmasjien, onder meer, uitspoeg. Wat weer gebruik kan word. Maar nou móét dit weer gebruik word.
Wie sou ooit kon dink ons sou water oes? Dat ons watertenks by ons huise en besighede sou aanbring om water van die dak af aan te keer. Dit het nou al snobwaarde gekry oor die aantal en grootte van die tenks wat jy op die werf het.
Selfs in woonkomplekse waar tenks tevore nie toegelaat is nie weens die estetika, maak nou toegewings. In my eie kompleks mag daar nou 5 000 liter tenks wees, met sekere kleur- en plekvoorwaardes. Water is nou die belangrikste, bo die estetiese.
Mensig! Wie sou ooit kon dink dat ons beurt-water sou ondervind? Sou ons ooit kon voorsien dat ons water van 10vm tot 4nm gesny sal wees? Onmoontlik! sou ons selfs ’n jaar gelede gesê het. Maar nou is dit realiteit. Inwoners van sommige dorpies in die Kouga area, soos Hankey, beleef die water-afsny al ’n geruime tyd. Nou is dit ook so in die res van die Kouga.
Ons het al jare lank gewoond geraak aan beurtkrag. Daardie “sê nou die krag gaan af en ek het nie voorsorg gemaak nie” is al iets van die verlede. Elke huishouding is al paraat met kerse, lampies, ligte of opwekkers.
Maar daardie “sê nou-gevoel” is weer van vooraf erg. Ons kan nog ’n plan maak met die krag – selfs daarsonder klaarkom. Maar water? Nooit!
Vriende wou nog ’n paar ekstra emmers gaan koop, maar dit was sowaar uitverkoop by die grootste supermarkte en ander winkels.
Nou tel elke druppel. ’n Aanha-ling wat ek al gesien het, sê “as jy eers jou water moet dra, waardeer jy elke druppel.”
Elke mens maak nou planne vir kosbare lewendgewende water. Van boere tot huisvroue. Ons besef nou opnuut water is ’n voorreg, nie ’n reg nie.
Ons was wasgoed wanner daar water is, kook met minder water, stort, draai krane stywer toe, rapporteer waterlekke en meer. Ek kan met min oor die weg kom, maar sorg altyd dat daar darem genoeg water is vir ’n koppie tee.
Wie sou ooit kon dink dat die water sal opraak?





