Four hands holding onto each other.
Picture for illustration purposes. Credit: Pixabay

Met die onlangse rugby kragmeting tussen onse Springbokke en die span van Italië, het ek self beleef hoe sport ‘n nasie saamsnoer!

Die opgewondenheid het reeds begin borrel toe vriendin Soria my saamnooi.

Sommer in ‘n japtrap het die groep gegroei tot tien en ‘n properse taxi is gereël om ons te vervoer.

Met plakkers van die landsvlag op ons almal se wange, groen Springbok hemde, Bok-keppe, -sokkies, en -serpe, is ons Baai toe.

Almal het opgedaag met moed, hoop en geloof in die Bokke.

Opbeurende musiek dra by tot die warm hartklop en afwagting.

By die hek is mense selfs gemoedelik met die deursoeking vir verbode artikels, en het net gefokus om by die duur sitplekke uit te kom.

Die Nelson Mandela Stadion is ‘n belewenis.

Dis ‘n indrukwekkende plek wat ontwerp is in die vorm van ‘n blom en die blomblare omvou die stadion.

Ek was bevoorreg om as SAUK radio joernalis gereeld oor die vordering met die bou daarvan verslag te gedoen het.

Toe ek daar sit, het my gedagtes gedwaal na die projek wat in 2009 voltooi is – betyds vir die 2010 FIFA sokker wêreldbeker toernooie.

Ek was daar toe die eerste van die 46-duisend sitplekke by dié wêreldklas stadion aangekom het.

Ek vergaap my aan die verskeidenheid plakate en uitrustings.

‘n Jong man reg voor my het die onderbroek wat Faf bekend gemaak het, sommer bo-oor sy jean aangetrek.

So ver die oog kon sien, was dit ‘n see van groen in die stadion wat gepak is met Bok-ondersteuners!

Dit was goeie bewys dat Oos-Kapenaars dit werd is om ínternasionale wedstryde hier te kry.

Hier was laas in 2021 so ‘n wedstryd.

Soos van die nuweling Bokke se trane gerol het, wel emosies in ‘n mens op wanneer die volkslied gesing word.

Jy voel één met die skare.

My rugbykennis is maar karig.

Gewoonlik kyk ek die groot wedstryde op televisie waar my broer Japie kan verduidelik wat gebeur en ons weer kan kyk.

Maar o wee, hier by die stadion is ek verlore! Die groot skerm help darem.

Ek word meegevoer deur die massa se juiging.

Die Mexican wave gaan telkens sommer twee keer suksesvol reg rondom die stadion.

Dis altyd mooi om op televisie te sien, maar dis opwindend om deel te wees daarvan!

Sewe keer het die Bokke agter die pale gaan druk!

Dit bruis in my en kan nie help om spontaan saam met almal op te spring en hande in die lug met die Suid-Afrikaanse vlag te waai nie!

Die samehorigheid is oorweldigend.

Vandag is ons almal Suid-Afrikaners. Die Bokke is óns span. Hulle wen met 45-0!

Vergete is politiek, misdaad en inflasie.

Daar is wel dreunsang wanneer iets opwindend op die veld gebeur; maar ek sou darem graag wou hoor hoe weerklink een van Leon Schuster se mees onlangse rugbyliedjies se refrein:

“Ama bokka, ma bokka, bokka

Dis die Bokmasjien

The lean mean green

Is the Bokmasjien (hey)

Bokka, ma bokka, bokka

Bring daai beker weer

Olé olé olé

Vir die vierde keer”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article