airplane vliegtuig generic
Foto ter illustrasie. Credit: Pixabay

SUID-AFRIKA – Vlieg word gewoonlik geassosieer met vryheid, grasieuse bewegings deur die lug, sweef na ‘n ver bestemming.

Die wonder van vlieg het my nog altyd gefassineer – hetsy dit nou geveerde voëls of ystervoëls is. Die vliegtuie wat kleintyd in Johannesburg oor ons huis gevlieg het, was vir my ‘n wonderwerk.

Ek kon ook ure op my rug lê en my verwonder aan die voëls in vlug. Hulle swierige draaie en swaaie in formasie en dat hulle nooit teen mekaar vasvlieg nie, verstom my steeds.

Maar… om met ‘n vliegtuig te vlieg is glad nie so vry en grasieus nie. Met ‘n onlangse besoek aan Johannesburg het ek weereens besef dat dit eintlik maar ‘n ongemaklike affêre is. Vandat jy begin pak is jy bewus van die inperking: moenie skerp goed pak nie, ook nie te veel nie want dan weeg die tas te swaar. Jou handbagasie moet lig genoeg wees dat jy dit self kan hanteer.

Hou die horlosie dop. Sorg dat jy mooi lees waar jy moet aanmeld. Lees weer en weer as jy op die lughawe kom.

Maak doodseker. Doen alles reg en stiptelik. Daar word nie meer aangekondig wie waar moet aanmeld nie. Jy moet self verantwoordelikheid neem.

Met ‘n sug van verligting neem jy plaas op jou nou sitplek wat jy vooraf bespreek het, en sit die sitplekgordel aan.

Jy knyp jou elmboë styf teen jou vas wanneer jy uit die minuskule houertjies eet.

Maar aai togga! Ander passasiers neem nie hulle mede-passiers in ag nie. Ek het nou weer beleef hoe die gesette vrou deur die knap gangetjie wikkel en stoot met haar oorgroot handsak, inkopsiesak oor die skouer waaruit wegneemkos peul en daarby sukkel-sleep sy nog ‘n tas saam wat eerder in die bagasieruim hoort.

Sy stamp almal teen die kop met die tas in ‘n poging om dit in die kajuitruimte te sit. Eintlik ingesmyt sodat niemand anders iets kan inlaai nie.

Met ‘n moewiese sonbril en vals wimpers stoei sy haar pad oop na die venstersitplek – wat oorloop van haar! Sy bel gou iemand en vertel ten aanhore van die hele vliegtuig op die foon se luidspreker hoe onbehulpsaam mense is! Asseblief!!

‘n Ander vrou gooi haar lang krulhare parmantig oor die rugkant van haar sitplek wat die man agter haar ‘n veeg deur die gesig gee.

Skuinsvorentoe sien ek ‘n ou wat sy denimbaadjie oor die rugkant hang…in die klein ruimte van sy mede-passasier agter hom. Ek verstom my aan mense se onbedagsaamheid. Dit kom voor asof elkeen net aan homself dink en niemand anders in ag neem nie.

Ek wonder tog wie het besluit dat ‘n vliegtuigsitplek nou só nou moet wees. As dit net 10cm wyer was, sou dit mos stukke beter wees.

Om nie eers te praat van beenspasie nie! Daar is darem regtig min spasie vir die ouens met lang bene. Daar is op sommige vlugte plekke met ekstra spasie, maar eintlik kan álmal doen daarmee (en ek praat nou nie van die besigheidsklas nie).

Miskien is daar ‘n hoop vir die toekoms dat die vliegtuigsitplekke ergonomies beter ontwerp sal word. Maar veel belangriker moet passasiers meer bedagsaam wees en ander se ruimte respekteer.

Gelukkig het die ou langs my net fyntjies gesnork.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article